Nóg ’n eerbewys vir SA se Donald

Allan Donald laat Mike Atherton se paaltjies op die Wanderers spat. Foto: Twitter.

Op volle vaart moes Allan Donald ’n vreesaanjaende gesig vir kolwers gewees het.

Met sy kenmerkende wit oorlogsverf het dit gelyk asof hy na die paaltjies gesweef het en nie gehardloop het nie. ’n Blitsige plofbeweging aan die einde van sy aanloop het egter gesorg dat g’n kolwer ooit op sy louere kon rus wanneer Donald geboul het nie; die bal het male sonder tal teen ’n spoed van vinniger as 145 km/h verby hul helms gesuis.

Wanneer die Proteas, Vrystaat of Warwickshire in die moeilikheid was, het Hansie Cronje of Dermot Reeve die bal na Donald gegooi om ’n deurbraak te bewerkstellig. En die “Wit Blits” was maar net te gretig om ’n kolwer terug na die kleedkamer te stuur.

In 72 toetse het hy 330 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 22,25 laat kantel. Baie ontleders voel dat hy Suid-Afrika se beste bouler nóg is, al mor Dale Steyn en Mike Proctor se ondersteuners oor dié redenasie.

Maar dat Donald op die internasionale verhoog gerespekteer word, is ’n feit. Krieketliefhebbers reg oor die wêreld praat steeds van sy epiese tweestryd met Mike Atherton op Trent Bridge, sowel as die keer toe hy vir Steve en Mark Waugh op die Sydney Cricket Ground met sy opslagballe gepeper het.

Nou het sy geliefde Warwickshire-klub in Engeland hom as hul beste oorsese speler van alle tye aangewys.

Allan Donald gaan die Vrystaatse krieketspan se nuwe hoofafrigter word. Foto: ANA.

Donald het sy loopbaan in 1987 by die Bears op Edgbaston begin en hy het emmersvol paaltjies vir die graafskap geneem.

Sy beste vertoning was in 1995 toe hy 89 kampioenskap-paaltjies teen ’n ongelooflike gemiddeld van 16,07 laat kantel het.

“Allan se vertoning in daardie jaar word amper in ongeloof deur sy spanmaats onthou,” het die klub se Andy Moles gesê.

Donald het Wes-Indiërs soos Alvin Kallicharan en Brian Lara – wat 501 lopies in ’n enkele beurt vir Warwickshire geslaan het – uitgestof om 48% van die stemme te werf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.