Nóg ’n internasionale avontuur eindig vir Arthur

Mickey Arthur. Foto: Ishara Kodikara/AFP.

Mickey Arthur moet een van die krieketafrigters met die meeste internasionale ervaring agter sy naam wees.

Benewens sy tyd saam met die Proteas – waar hy en Graeme Smith toegesien het dat die Suid-Afrikaners nie net die wêreld se voorste toetsspan word nie, maar ook met Engeland en Australië weg van die huis afgereken het – was hy ook al aan die stuur van die Aussies en Pakistan se nasionale spanne.

Nou het egter nog ’n internasionale avontuur vir die 53-jarige afrigter tot ’n einde gekom.

Arthur se kontrak met Sri Lanka sal nie hernieu word nie en hy sal binnekort sy tasse vir Engeland pak, waar hy die afrigterleisels van Derbyshire by Dave Houghton sal oorneem.

Die eilandmanne het in die afgelope T20-Wêreldbeker gesukkel en volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) is hulle tans negende op die wêreldranglys in dié formaat van die spel.

Dinge lyk ook nie veel beter in die toetsarena (agtste) of eendagverhoog (negende) nie.

“Dit is hartseer dat my pad saam met Sri Lanka ná die reeks teen die Wes-Indiese Eilande tot ’n einde kom,” het Arthur getwiet.

Volgens die Suid-Afrikaner het hy elke oomblik daarvan geniet om die Sri Lankaanse spelers by te staan.

“Ek weet dat krieket in Sri Lanka nou sterker is as toe ek daar begin het.”

Intussen glo Ian Morgan, klubvoorsitter, dat daar met Arthur se koms opwindende dinge vir Derbyshire in die toekoms wag.

“Mickey is ’n hoogaangeskrewe afrigter en dit is ’n belangrike aanstelling om voor die winter te maak. Hy het begrip vir ons erfenis as ’n graafskap en hy is gereed om ’n positiewe invloed op die klub te hê.”

Arthur se afrigtersloopbaan is egter nie sonder omstredenheid nie.

Dinge was maar troebel saam met die Aussies en hy was veral in die spervuur omdat hy verwag het dat hardebaarde soos Michael Clarke en Shane Watson “huiswerk” moes inhandig ná ’n swak vertoning teen Indië.

Saam met Pakistan het hy die Kampioenbeker gewen en toegesien dat hulle tien agtereenvolgende T20-reekse gewen het.

Hy is egter in die pad gesteek nadat Pakistan nie na wense by die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2019 vertoon het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.