Nóg ’n mediese terugslag vir Cairns

Chris Cairns is een van wêreldkrieket se voorste veelsydige spelers. Foto: Twitter.

Chris Cairns, die voormalige Nieu-Seelandse krieketspeler, het nóg ’n mediese terugslag gehad en hy bly in ’n kritieke toestand.

Die 51-jarige Cairns het ’n paar weke gelede ’n massiewe hartaanval gehad wat tot ’n aorta-disseksie gelei het – ’n ernstige mediese noodtoestand waartydens ’n skeur aan die binnewand van die hoofslagaar ontstaan.

Luidens ’n verklaring deur sy familie het hy tydens ’n noodhartoperasie in Sydney ook ’n spinale beroerte gekry wat hom verlam in sy bene gelaat het.

“As gevolg daarvan sal hy ’n indringende rehabilitasieproses by ’n gespesialiseerde spinale hospitaal in Australië ontvang.”

Cairns het die Swartpette in 62 toetse en 215 eendagwedstryde verteenwoordig en hy was een van wêreldkrieket se voorste veelsydige spelers. Hy het in sy toetsloopbaan 218 paaltjies geneem en 87 sesse (destyds ’n wêreldrekord) geslaan.

Hy het in 2002 op die Gabba-krieketveld die wedstryd eiehandig vir Nieu-Seeland met sy onoorwonne beurt van 102 teen Suid-Afrika gewen.

Die Nieu-Seelanders moes toe 242 lopies vir ’n oorwinning aanteken en hulle het met hul telling op 98/5 gesteier, voordat Cairns se warrelwindbeurt (wat 12 grenshoue ingesluit het) die wedstryd vir die Kiwi’s beklink het.

Hy is egter later in sy loopbaan van wedstrydknoeiery verdink en hoewel hy onskuldig bevind is, het sy reputasie daaronder gely.

Die bewerings het ook sy verhouding met Brendon McCullum, die voormalige Nieu-Seelandse krieketster, versuur.

Tog het McCullum gesê dat die verlede nie nou saak maak nie en dat Cairns se gesondheid die belangrikste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.