Nóg ’n reusevertoning deur Morris

Chris Morris (Foto: Twitter)

Op 32-jarige ouderdom speel Chris Morris uiteindelik van die beste krieket van sy loopbaan. Die veelsydige ster van die Titane se wêreld in Pretoria was vantevore soms so wisselvallig soos die Johannesburgse Effektebeurs, maar hy is vanjaar waarskynlik dié speler in die Mzansi Superliga.

Morris se Nelson Mandela Bay Giants moes gister 161 lopies vir ’n oorwinning aangeteken het in hul kragmeting teen die Durban Heat in Port Elizabeth. En goeiste, dit was omtrent ’n naelbyt-affêre gewees.

Die Heat – wat waarskynlik baie dankbaar was dat reënweer vir eens nie ’n sê in een van hul wedstryde gehad het nie – het goed gevaar om 160/5 in hul toegelate 20 boulbeurte aan te teken. In ’n stadium het dinge nogal wankelrig gelyk met hul telling op 50/4 in die agtste boulbeurt, maar goeie beurte deur David Miller (45) en Ravi Bopara (57) het gesorg dat hulle met ’n mededingende telling kon spog.

Die Giants se beurt het blink begin met Engeland se Jason Roy wat ’n blitsige  vyftigtal van 38 aflewerings geslaan het.

Die Engelsman is goed deur Jon-Jon Smuts (33) bygestaan en dit het gelyk asof die Oos-Kaapse span op ’n drafstap sou wen.

Tog het drie vinnige paaltjies hulle kwaai gekniehalter en hulle moes 16 lopies van die laaste boulbeurt aangeteken het vir hul vierde sege in die reeks.

Gelukkig was Morris daar en hy het terstond ’n ses en twee agtereenvolgende viere geslaan om op ’n onoorwonne 22 van slegs 10 aflewerings te eindig.

Roy is as die speler van die wedstryd aangewys, maar die Suid-Afrikaner was die een wat die wa deur die drif getrek het.

  • In vandag se wedstryde speel die Cape Town Blitz teen die Paarl Rocks om 10:00, terwyl die Jozi Stars en die Tshwane Stars in die Gauteng-derby om 14:00 kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jack ·

Gister se Imzanzi krieket se uitslae kan miskien bevraagteken word. Hier praat ek verl van die wedstryd tussen die Durban Heat en die Nelson Mandela Bay Giants. Hoe Siboto vir enige span gekies kan word slaan my dronk. Dit is beslis nie op grond van sy werk as bouler nie. Sy laaste boulbeurt kan as verdag beskryf word en sou n laerskool seun maklik grenshoue daarvan kon aanteken. Dit het die Durban Heat die wedstryd gekos. Pos vir Siboto Gary Kirsten want hy gaan jou span ner verder verneder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.