Nóg ’n SA’ner maak sy Kiwi-buiging

Devon Conway laat waai met die wilgerlat. Foto: Twitter.

In 2012 het Neil Wagner, die oudleerling van Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria, sy toetsbuiging vir Nieu-Seeland se nasionale krieketspan gemaak. Sedertdien het hy in een van die wêreld se voorste snelboulers ontwikkel – in 48 toetse het hy reeds 206 paaltjies vir die Kiwi’s laat spat.

Dan het Grant Elliott, wat ’n paar wedstryde vir Griekwaland-Wes gespeel het, Suid-Afrika uit die 2015 Wêreldbeker-kriekettoernooi geboender toe hy ’n reuse-ses van Dale Steyn se boulwerk gemoker het om die wedstryd vir Nieu-Seeland te beklink.

Nou het nóg ’n Suid-Afrikaner sy buiging vir die Black Caps gemaak.

Die 29-jarige Devon Conway het onlangs sy Nieu-Seelandse verblyfreg gekry en hy is onmiddellik ’n nasionale kontrak aangebied. Hy het vandag in die T20-kragmeting teen die Wes-Indiese Eilande sy internasionale buiging gemaak.

En ’n mens kan verstaan waarom die Kiwi’s so gaande oor hom is.

In 21 eersterangse wedstryde vir Wellington het hy 2008 lopies teen ’n gemiddeld van 69,24 geslaan. In witbalkrieket is hy ewe gevaarlik: Sy 1 071 T20-lopies word teen ’n gemiddeld van 53,55 aangeteken terwyl hy met ’n hoogste telling van 105 spog.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene terug gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer,” het Luke Ronchi, die Kiwi’s se kolfafrigter gesê.

  • In die T20-wedstryd in Auckland het die Kiwi’s besluit om eerste te boul. Ten spyte van ’n sterk begin deur Andre Fletcher (34 van 14 aflewerings) het Lockie Ferguson (3/4) en Tim Southee die lopiekrane toegedraai.

Volgens die jongste beskikbare telling het die Windies 96/5 ná tien boulbeurte. Conway sal derde vir die Nieu-Seelanders kolf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

quartus ·

So eintlik speel ons teeen n gekombeneerde Suid-Afrikaanse / Nieuzeeland span as ons teen die Kiwis speel

Andrew ·

As jy vir Nieu-Seeland speel, en dus n burger van daai land, is jy n Nieu-Seelander nie n Suid Afrikaner nie. As jy vir die sharks gespeel het en nou vir die vrystaat, noem hulle jou nie n shark nie? n Beter opskrif dalk is “die suid-afrikaans gebore”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.