Nortjé, Ismail is KSA se beste

Anrich Nortjé. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Nadat Anrich Nortjé verlede jaar as die beste nuweling aangewys is, het hy gisteraand tydens Krieket Suid-Afrika (KSA) se virtuele toekenningsplegtigheid met die gesogte speler van die jaar-toekenning weggestap.

Die Oos-Kapenaar het ook drie verdere toekennings – toetsspeler van die jaar, spelers se speler van die jaar en die ondersteuners se speler van die jaar – ontvang.

Nortjé was ongetwyfeld Suid-Afrika se beste bouler en hy het vyf paaltjies in ’n beurt teen Sri Lanka (6/56) en Pakistan (5/56) geneem. In sy tien toetse het hy 39 paaltjies teen ’n gemiddeld van 29,84 laat kantel.

Tydens die 2020-weergawe van die Indiese Premierliga het hy ook vir die vinnigste aflewering in die reeks se geskiedenis gesorg – ’n kartets van 156,22 km/h teen die Rajasthan Royals.

Shabnim Ismail. Foto: Saeed Khan/AFP.

“Shoaib Akhtar se spoedrekord van 161,3 km/h is hopelik binne my bereik en is iets wat ek graag sal wil doen. Dalk, wanneer alles lekker saamspeel, is dit ’n prestasie wat ek in die toekoms kan vermag,” het hy destyds gesê.

George Linde, wat soveel veggees in die laaste toets teen Pakistan gewys het, is die nuweling van die jaar.

Onder die Protea-vrouespelers is Shabnim Ismail, ook ’n snelbouler, as die speler van die jaar aangewys.

Die 32-jarige Ismail het saam met Lizelle Lee ’n deurslaggewende rol in die Proteas se spogvertonings teen Pakistan en Indië gespeel en sy is ook die T20-speler van die jaar.

Wenners:

Speler van die jaar:

Anrich Nortjé en Shabnim Ismail

Toetsspeler van die jaar:

Anrich Nortjé

Eendagspeler van die jaar:

Rassie van der Dussen en Lizelle Lee

T20-speler van die jaar:

Tabraiz Shamsi en Shabnim Ismail

Spelers se speler van die jaar:

Anrich Nortjé, Aiden Markram en Shabnim Ismail

Ondersteuners se speler van die jaar:

Anrich Nortjé

KFC se Streetwise-toekenning:

Lizelle Lee vir haar onoorwonne beurt van 132 teen Indië

Aflewering van die jaar:

Wiaan Mulder toe hy vir Kusal Mendis uitgeknikker het.

Nuweling van die jaar:

George Linde

Plaaslike speler van die jaar (vierdagkrieket):

Aiden Markram

Plaaslike speler van die jaar (eendagkrieket):

Robbie Frylinck

Plaaslike speler van die jaar (T20-krieket):

Sisanda Magala

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.