Nortjé mik vir T20-wêreldbeker

Anrich Nortjé. Argieffoto.

Sondag op St. George’s Park moes Anrich Nortjé 17 lopies in die finale boulbeurt teen David Warner en Ashton Agar verdedig.

Normaalweg sou Protea-boulers effens skrikkerig gewees het, maar dit het gelyk asof Nortjé die uitdaging geniet en ses aflewerings later het hy net vier lopies afgestaan terwyl hy vir Agar skoongeboul het.

“Die komende T20-wêreldbeker is beslis een van my doelwitte vanjaar en ek wil soveel moontlik witbalkrieket speel,” het Nortjé ná sy tweede internasionale T20-wedstryd gesê.

In 21 eersterangse T20-kragmetings het hy 26 paaltjies teen ’n gemiddeld van 20,76 geneem terwyl hy 7,33 lopies per boulbeurt moes afstaan.

Die 26-jarige beïndruk gereeld met sy vaart en aggressie in die toetsarena, maar hy sal graag nog ’n paar wapens tot sy boularsenaal wil voeg in die mik-en-moker-weergawe van die spel.

“Ek wil net met elke wedstryd verbeter, meer ervaring opdoen en my spel ’n bietjie beter verstaan. Ek weet ek gaan nie skielik oornag in die wêreld se voorste T20-bouler ontpop nie, maar as ek met elke wedstryd ’n tree in die regte rigting kan gee, sal ek baie tevrede wees.”

Die Oos-Kapenaar is ook in die Protea-groep vir die komende eendagreeks teen die Australiërs.

“Ek is baie opgewonde om in die groep te wees en sien daarna uit om die Aussies aan te vat.”

Die beslissende T20-wedstryd teen Australië word vanaand op Nuweland beslis en die Proteas se hulpafrigter, Enoch Nkwe, het die kragmeting met ’n uitklopwedstryd by die Wêreldbeker vergelyk.

En ná Nortjé en die ander boulers se heldedade die afgelope naweek, het die Suid-Afrikaners gewys dat hulle belangrike wedstryde kan wen.

Hulle moet dit net meer gereeld begin doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
charmaine

Wel na gisteraand weet ek nie wie gaan kies word vir n WB nie.