Nuwe snelboulheld knak Indiese kolfbeurt

Lungi Ngidi – speler van die wedstryd (Foto Twitter @Official CSA)

Onervare, op 21 nog jonk vir ʼn internasionale snelbouler en met sy voete deeglik op die grond.

Dít is die nuwe krieketvonds van die Proteas wat Woensdag die Indiese kolflys geknak en sy span tot ʼn reekssege oor die wêreld se beste span gehelp het.

Indië moes 287 lopies aanteken om te wen, het op die vyfde dag op 35/2 kom voortkolf en is vir net 151 lopies uitgehaal.

♦  Die held is die groot nuweling Lungi Ngidi wat op Hilton College, net buite Pietermaritzburg, skoolgegaan en KwaZulu-Natal op elke junior vlak verteenwoordig het. Hy is vir sy boulvertoning in die tweede beurt, toe hy 6/39 geneem het, as speler van die wedstryd aangewys.

Ngidi het, ná slegs tien eersterangse wedstryde, verlede week die oproep gekry om hom by die Proteas se toetsgroep vir die tweede toets in Pretoria aan te sluit.

Speel sou hy seker nie, maar die onsekerheid of Chris Morris se rug sou hou het aan die 21-jarige Ngidi sy kans gegee.

Hy was sommer gou-gou die held toe hy in die tiende boulbeurt met ʼn trefgooi vir Cheteshwar Pujara uitgehardloop het ­– en toe neem hy boonop ook as  bouler ‘n paaltjie in Indië se eerste beurt.

Dinsdag, op die verlengde vierde dag, het Ngidi met sy heel eerste bal in Indië se tweede kolfbeurt vir Lokesh Rahul uitgehaal en dit later opgevolg met ʼn skitterende bal wat die Indiese kaptein Virat heeltemal geklop en beenvoor betrap het.

Op die laaste dag het hy in die vyfde boulbeurt van die dag ʼn bal op die grens met ʼn duikslag afgekeer en binnetoe geskuif. AB de Villiers was by, het opgetel en Pujara is die tweede keer in die wedstryd uitgehardloop en wéér het Ngidi ʼn rol daarin gespeel – 49/4.

Terloops, Pujara is die eerste kolwer sedert 2000 wat twee keer in ʼn toets uitgehardloop word en was by ses van Indië se laaste agt uithardloop-paaltjies betrokke.

Die sesde paaltjie het weer Ngidi se naam in die “uit”-kolom gehad nadat hy die gevaarlike Hardik Pandya vir ses agter die paaltjies laat uitvang het. So ook met die sewende, agtste en negende paaltjies wat hom saam met die twee op die vierde dag ʼn boulontleding van 6/39 in die kolfbeurtbeurt en 7/90 in sy eerste toets gegee het.

“Dit het nog nie ingesink nie. Ek is sommer baie gelukkig. Dit was ʼn groot en skielike ommekeer vir  my ná redelike vertonings in die franchise-krieket. Ek het gevoel ek is op my stukke toe ek opgeroep is na die toetsgroep. Gelukkig was my eerste toets op my tuisveld.

“Die ondersteuning was uitstekend. Ek het gebly by die basiese dinge wat ek ken en die bal wat af en toe terugbeweeg het, het die paaltjies geneem.

“Dit was wel nie die vinnigste SuperSport-kolfblad nie, maar ʼn mens maak maar gebruik wat jy kry en ons het hulle onder druk gehou.

Vir die volledige telkaart en ontledings, klik op die skakel

http://www.espncricinfo.com/series/18065/scorecard/1122277/south-africa-vs-india-2nd-test-ind-in-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

quin ·

wim… as Ngidi 2 paaltjies in die eerste beurt geneem het en 6 in die tweede beurt dan is dit agt vir die wedstryd hy het net een paaltjie in die eerste beurt die uithardloop kom nie teen sy boul ontleding nie……

Wim van der Berg ·

Baie dankie vir die uitwys van die fout. Dit is reeds reggemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.