Nuwe T20-krieketreeks: wag daar ʼn pot goud?

Argieffoto (Foto: Srishti Sonavane/Pixabay)

Die reddingsboei wat deur die nuwe T20-reeks aan die Suid-Afrikaanse krieketbase uitgegooi word, kan die son weer helder op krieket laat skyn.

Krieket Suid-Afrika (KSA) skarrel die afgelope paar jaar om kop bo water te hou.

In 2017 kon die sogenaamde Global T20-liga nie van die grond af kom nie, omdat die nodige televisieregte nie bekom kon word nie.

Die gedoemde reeks het tot die vroeë uittrede van KSA se destydse uitvoerende hoof, Haroon Lorgat, gelei. In 2018 het die Mzansi-Superliga tot stand gekom, maar nadat die uitsaairegte op ’n skinkbord deur die vorige hoof, Thabang Moroe, aan die SABC verkwansel is, het dit platgeval.

Die afgelope twee toernooie is ook deur Covid-19-pandemie gekelder en dit het KSA verder op sy knieë gedwing.

Gelukkig het die toetrede van SuperSport en Graeme Smith (hy heet nou die kommissaris van die nuwe reeks), tot die redding gekom nadat die ses franchises aan ses skatryke Indiese eienaars van IPL-spanne toegeken is. Die nuwe eienaars het miljoene der miljoene vir die regte betaal vir die reeks wat aanstaande jaar in Januarie en Februarie gespeel sal word.

Die reeks het nog nie ʼn naam nie, die spanne het nog nie name nie, behalwe die absurde MI Cape Town (Mumbai Indians), maar die wiele draai reeds.

Wat ons wel weet, is dat die ses franchises op Nuweland in Kaapstad (eienaar: Mumbai Indians), Kingsmead in Durban (Lucknow Super Giants), St George’s Park in Gqeberha (Sunrisers Hyderabad) Wanderers in Johannesburg (Chennai Super Kings), SuperSportpark in Centurion (Rajasthan Royals) en Boland Park in die Paarl (Delhi Capitals) beslis sal word.

Elke span sal tien wedstryde speel en die topdrie-spanne sal tot ʼn uitklopronde deurdring.

Altesame 30 buitelandse spelers is reeds gekontrakteer en sal miljoene ontvang.

Hulle sluit ook die Suid-Afrikaners Faf du Plessis, Rilee Roussow, Kagiso Rabada, Quinton de Kock, David Miller, Aiden Markram en Anrich Nortje in, ses spelers van die Wes-Indiese Eilande (Obed McCoy, Alzarri Joseph, Kyle Mayers, Romario Shepherd, Jaydon Seales en Jason Holder), 11 Engelse spelers (Eoin Morgan, Will Jacks, Harry Brook, Sam Curran, Liam Livingstone, Jos Buttler, Tymal Mills, Jason Roy, Reece Topley, Phil Salt en Moeen Ali), een Ier Harry Tector, een Nieu-Seelander in Jimmy Neesham en Maheesh Theekshana, Matheesha Pathirana, Niroshan Dickwella, Seekkuge Prasanna, Dushmantha Chameera, Chamika Karunaratne, Nuwan Pradeep, Akila Dhananjaya, Dhananjaya Lakshan en Vishwa Fernando van Sri Lanka asook Rashid Khan van Afganistan.

Ongelukkig is daar is geen Australiërs, Indiërs en spelers van Pakistan of Bangladesj nie en net een Kiwi.

Die res van die franchises sal deur plaaslike spelers aangevul word.

Volgens die reëls kon franchises reeds een Suid-Afrikaanse toetsspeler, een nie-toetsspeler en drie buitelanders kies.

Die Kaapse span het vir Kagiso Rabada, Sam Curran, Liam Livingstone (albei Engeland), Rashid Khan (Afganistan) en die jong Dewald Brevis nader getrek.

Die Durbanse franchise, wat deur Lance Klusener afgerig gaan word, het die dienste van Quinten de Kock, Jason Holder en Kyle Mayers (Windies) en Prenelan Sebrayen (plaaslik) bekom terwyl Butler (Engeland), David Miller (SA), McCoy (Windies) en die jong Corbin Bosch vir die Paarl-span sal speel.

Gaan dit werk?

Beslis, hoewel daar is nog ʼn paar skaafplekke is, soos om toe te sien dat die wedstryde en uitsaaitye nie met rugby-uitsendings (die Suid-Afrikaanse spanne wat in die Verenigde Rugbykampioenskap, Kampioenebeker- en Uitdaagbeker-reeks speel), bots nie.

Ook sal die begintye op weeksaande die plaaslike ondersteuners moet pas, omdat die skole reeds hervat het.

Dit gaan ook belangrik wees om toe te sien dat die reeks nie deur die IPL-base gekaap word nie, dat plaaslike afrigters en spelers tot hul reg sal kom en dat die winste behoorlik teruggeploeg en aangewend word.

As dit gebeur, wag daar ‘n pot goud aan die einde van die reënboog op krieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.