Nuweland ook ʼn bondgenoot vir SA se naataanval

Vernon Philander (middel) saam met Kagiso Rabada (regs) en afrigter Russell Domingo. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Vernon Philander (middel) saam met Kagiso Rabada (regs) en afrigter Russell Domingo. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Sri Lanka sal van Maandag af op Nuweland, in die tweede toets teen Suid-Afrika, weer met ʼn kolfblad te doen kry met heelwat gras.

In die eerste toets in Port Elizabeth was daar egter vir die besoekers die ‘versagtende omstandighede’ van die gras wat ietwat droog was weens die min reën en ook die Oos-Kaapse wind wat die vog in die blad verder uitgedroog het.

Op Nuweland kom die besoekers te staan teen ʼn span wat met die oorwinning die drie-toetsreeks sal beklink en daarmee opskuif na die derde posisie van wêreldkrieket se ranglys.

Nuweland is juis nie die Sri Lankane se gunsteling jagveld nie. Hulle het die vorige twee toetse daar met onderskeidelik ʼn beurt en 229 lopies en tien paaltjies verloor. Kan hulle die bordjie oor die volgende vyf dae verhang? Onwaarskynlik.

Hulle het wel in die eerste toets gewys hulle het die kolwers wat kan vasbyt, maar vegterinstink is in krieket nie veel werd sonder dissipline nie.

Dit is juis waar Sri Lanka se tekortkominge lê. Hul kolwers het te dikwels hard gewerk om dan hul paaltjies met onverantwoordelike houe weg te gooi. Dit was veral ʼn probleem op St Georgespark, waar geduld en konsentrasie saam nodig is om wedstryde te wen.

Die Proteas se bestuur sal self hoop dat daar die week meer kolwers is wat voortbou op ʼn stewige begin aan hul kolfbeurte. Dit is dringend noodsaaklik dat daar meer as een speler is wat ʼn groot beurt in dieselfde kolfbeurt speel.

Die kolwers het tot dusver, ook in Australië, almal lopies gekry, maar selde as ʼn kolfeenheid beïndruk.

Suid-Afrika het reeds bekend gemaak dieselfde wenspan van die Baai sal in die tweede toets diens doen. Daar is egter kommer oor Quinton de Kock se vingerbesering, iets wat maar alte dikwels die lot van ʼn paaltjiewagter is.

Die naataanval van Suid-Afrika, Vernon Philander, Kyle Abbott en Kagiso Rabada, sal in die kollig wees en na verwagting die skade aanrig. Keshav Maharaj sal nie sommer onder die kolwers maai nie en Rangana Herath van Sri Lanka sal insgelyks waarskynlik minder gevaar vir die Proteas se kolwers inhou.

Maar wie weet, dalk het die Kaapse droogte reeds die baie gras minder gevaarlik vir die kolwers gemaak en sal die verwagte warm weer oor die komende vyf dae, saam met die rukwinde wat voorspel word, die kolfblad effens meer draaglik vir veral die Sri Lankaanse kolwers maak.

Wat egter redelik seker is, is dat daar nie, soos in 2011 teen Australië, 23 paaltjies op een dag sal tuimel nie. Suid-Afrika het toe net 96 in antwoord op Australië se 284 aangeteken, maar die Aussies toe vir 47 uitgehaal.
Die toets begin om 10:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaybee ·

Dankie Maroela media dat julle ook beriggewing verskaf oor krieket.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.