O’Brien se reusehou gee sy eie motor ’n knou

Kevin O’Brien. Foto: Twitter.

So ’n paar jaar gelede het Daniel Griesel van Laerskool Middelburg ’n ses deur ’n venster van die Hervormde Kerk oorkant die pad gejaag. ’n Beïndrukte weldoener het vir die herstel van die skade betaal, maar Daniel se heldedaad het vir ’n lekker storie rondom die braaivleisvuur gesorg.

Nou het Ierland se Kevin O’Brien vroeër die week iets soortgelyks vir die Leinster Warriors teen die North-West Warrors in Dublin gedoen.

Die 36-jarige kolwer het die wilgelat na hartelus geswaai en 82 lopies van slegs 37 balle gemoker. Sy beurt het agt reuse-sesse ingesluit en hy het gesorg dat die Warriors die wedstryd met 24 lopies wen.

Maar die stomme O’Brien se aanvanklike trots om die boulers vir  sesse te slaan, moes in afgryse verander het toe ná die wedstryd na sy motor stap.

Een van sy mokerhoue het op sy Toyota – wat heel onskuldig in die parkeerarea gestaan het – geland en sy agterruit in skerwe laat spat.

Volgens O’Brien het die Ierse reënweer gesorg dat hy so na as moontlik aan die kleedkamers parkeer het. ’n Oordeelsfout soos wat hy later besef het.

Hy het kort daarna sy motor na die plaaslike Toyota-agentskap gevat waar hy ’n paar tong-in-die-kies-foto’s geneem het.

“Ten minste het ek nie nodig gehad om die lugversorger koeler te stel op pad na julle nie – ek sal volgende keer verder weg parkeer!” het hy op Twitter geskerts.

Hy is bekend vir sy kragtige houe – hy het tydens die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2011 ’n honderdtal van slegs 50 aflewerings teen Engeland gemoker, terwyl hy ook aan die stuur van sake was toe ’n suksesvolle Ierse span 329 lopies teen die einste span in ’n eendagwedstryd gejaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.