Olivier vat sewe paaltjies vir Yorkshire

Duanne Olivier. Foto: Cricinfo.

Headingley mag dalk ’n paar duisend kilometer van Bloemfontein af wees, maar Duanne Olivier is besig om ewe tuis op beide kolfblaaie te voel.

Die 26-jarige oud-Protea het die afgelope week sy eersterangse debuut vir Yorkshire Krieketklub teen Nottinghamshire in Engeland gemaak, ná hy vroeër ’n Kolpak-kontrak onderteken het.

Olivier het 48 paaltjies in 10 toetse vir die Proteas geneem en hy het veral kolwers met sy aggressie en opslagballe laat bontstaan.

Hy is as die speler van die reeks teen Pakistan aangewys toe hy 24 paaltjies in slegs drie toetse geneem het. Dit ná hy aanvanklik nie vir die reeks gekies sou gewees het nie.

Hy het egter ná die rampspoedige toetsreeks teen Sri Lanka sy rug op Suid-Afrikaanse krieket gedraai om ’n loopbaan in Engeland na te jaag.

Olivier het die afgelope week teen Notts sewe paaltjies vir sy nuwe graafskap geneem. Hy het onder andere van Ben Duckett en Stuart Broad (beide internasionale Engelse spelers) ontslae geraak. In die eerste beurt het hy 5/96 geneem en in die tweede beurt 2/66.

Die Suid-Afrikaanse snelbouler droom om sy internasionale loopbaan vir Engeland voort te sit en sy debuutvertoning het sy doelwit geen skade aangedoen nie: Veral as jy in ag neem dat Engeland se kaptein, Joe Root, óók vir Yorkshire speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wurmpie ·

Asgevolg van politiek in sport dat ons sulke manne verloor. Sterkte vir hom waar hy ook mag gaan

Kiepie ·

Nee wat Wurmpie, as ‘n man reeds vir die Proteas speel en dan besluit om jou heil iewers anders te gaan soek kan jy nie politiek die skuld gee nie. Kyk eerder na koning Mammon.
Wat nie te sê is dat politiek nie wel ‘n rol speel by baie jong spelers se besluit nie, maar nie hier nie.

Hendrik UAE ·

Kiepie,Olivier was maar gekies omrede al die ander boulers beseer was of iets. Hy sou aan die agterste speen suig teen al die meriete(lees kwota) spelers.

bollie ·

7 paaltjies in twee beurte as as een van die voorlyn boulers is nie te fantasties nie.

Robert ·

Bollie: jy weet natuurlik of die kolf blad enigsins verander het of nie, 7 paaltjies in ‘n wedstryd is enige bouler se droom.

Nico K ·

Was Olivier regtig so goed? Hy het baie lopies afgestaan en ek sou hom nie vir eendag krieket en d.w.s. die wêreldbeker gekies het nie.

Lol ·

Wens hom alle sukses toe. As hy nie goed was nie sou hy nie die aanbod gekry het nie. Die mense wat die werwing doen weet meer van krieket as almal van ons saam.

janpampoen ·

Wel, hy is nie beter as Rabada, Ngidi, Steyn of Philander nie. Jy kan ‘n saak uitmaak dat laasgenoemde twee baie beseer is (wat ook is hoekom hy kans gekry het).

LOL ·

En Ngidi se beserings word vergeet? Hoop ek is verkeerd, maar hier kom ‘n Ngam wat nooit tot sy reg kon presteer agv beserings.

JANNIE GRIMBEEK ·

Welgedaan Duanne, mag jy van krag tot krag gaan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.