Omgekeerde swaai kan deurslaggewend in Pakistan wees

Kagiso Rabada: Foto: Marco Longari/AFP.

Omgekeerde swaai is ’n moeilike konsep om te verduidelik, maar al wat ons leke behoort te weet is dat ’n baie doeltreffende manier is om van kolwers ontslae te raak.

Dit werk veral lekker op die grondpad-kolfblaaie wat in Asië te vinde is, of wanneer ’n mens toevallig ’n stukkie skuurpapier in jou sak het.

Dale Steyn was – in die meer onlangse geskiedenis, altans –  Suid-Afrika se voorste omgekeerde swaai-ghoeroe. In 2010 het hy die Indiese kolwers in ’n toets Nagpur laat bontstaan om 7/51 te neem.

Maar die Phalaborwa Sneltrein se toetsloopbaan is iets van die verlede en die Proteas is tans in Pakistan met boulers soos Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi tot hul beskikking.

En volgens Rabada sal omgekeerde swaai ’n sleutelrol in die komende toetsreeks teen die Pakistani’s speel.

Hoewel hy opgewonde oor die bouluitdaging is, weet hy ook dat die Protea-kolwers hul storie sal moet ken om die tuisspan se boulers te tem.

Aiden Markram. (Foto: Themba Hadebe/AP)

“Ons kolwers sal beslis ’n paar verstellings moet maak. Die bal skiet nie so lekker deur soos wat dit in Suid-Afrika doen nie. Terselfdertyd sal ons boulers die paaltjies meer moet aanval,” het Rabada gesê.

Dit is die Proteas se eerste toer na Pakistan in jare. Spelers soos Faf du Plessis en Quinton de Kock het ervaring om in Asië te speel, maar iemand soos Aiden Markram het in Indië gesukkel, terwyl dit Rassie van der Dussen se eerste toer na Asië is.

“Toetskrieket daag ’n mense op elke denkbare manier uit, terwyl die toestande ook vir moeilike vrae kan sorg. Tog, nadat alles verby is, is dit die formaat van die spel wat almal die meeste geniet.”

Volgens Rabada sal die tuisspan op alle silinders wil vuur; veral omdat hulle ’n groot drag slae in die afgelope toetsreeks teen Nieu-Seeland gekry het.

“Ons weet dat ons enige span ter wêreld kan klop. Daar het egter baie veranderinge in die afgelope paar seisoene plaasgevind, maar ons is ’n jong en energieke span. Dit sorg vir opwinding en ek kan nie wag om te speel nie.”

Die toetsreeks begin amptelik op 26 Januarie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baardman ·

Whatever….. begin al klaar verskonings maak voordat daar begin is. Speel maar lekker, julle het nie meer so groot ondersteuners korps soos wat julle dink nie. (My opinie)

Johan ·

Omgekeerde swaai beteken hulle gaan die ander knie ook buig.

Jakes ·

Die Proteas gaan vinnig hul BLM knie buigery uit hul koppe moet kry en hul aandag op die spel plaas. Min van die spelers wat gekies is kan draaibalboulers goed speel en sal hulle vinnig uitvind dat Pakistan nie Srilanka is nie. Ek voorspel dat die Proteas lekker pakslae gaan kry.

Steve ·

Sou dit nie wonderlik wees as ons beste spelers op meriete daar was in plaas van kleur keuses nie? Ek ondersteun geen SA span meer nie. Weier om 2de beste BEE insluitings te ondersteun terwyl ons beste spelers oorsee speel en uitblink. Mors nie meer my tyd om eers te kyk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.