Onervare Proteas in eerste T-20-wedstryd teen Sri Lanka

Argieffoto

Argieffoto

Die eerste van drie T20-wedstryde tussen Suid-Afrika en Sri Lanka word Vrydag in Centurion gespeel met ʼn ses nuwelinge in die Proteas se groep waaruit die span gekies sal word.

Die Proteas se hoofafrigter, Russell Domingo, is opgewonde oor die geleentheid wat die reeks hom bied om die beskikbare diepte te peil en ook nuwe talent te ontgin.

Die Proteas se T20-nuwelinge is Jon-Jon Smuts, Theunis de Bruyn, Mangaliso Mosehle, Andile Phehlukwayo (wat die voorste eendagbouler teen die Aussies was), Dane Paterson en Lungi Ngidi. Dié spelers het almal in die plaaslike T20-uitdaagreeks uitstekend gevaar en verdien ʼn kans om na internasionale vlak deur te breek.

Farhaan Behardien sal sy debuut as kaptein in die eerste twee wedstryde maak wanneer hy instaan vir Faf du Plessis wat nie beskikbaar is nie. Du Plessis en AB de Villiers en ook Morné Morkel sal moontlik vir die derde T20-wedstryd beskikbaar wees.

David Miller, wat in Oktober laas internasionale krieket gespeel het toe die Proteas 5-0 met die Aussies in die eendagreeks afgereken het, kan nie wag om weer te speel nie. Hy het herstel van sy besering en sien daarna uit om as senior speler die nuwelinge te help mentor.

Sri Lanka se T20-span het een nuweling in die groep. Hy is die veelsydige speler Thikshila de Silva wat nog geen internasionale krieket in enige formaat gespeel het nie.

Lakshan Sandakan is nuut in die T20-groep, maar die linkerarm gewrigdraaier het al drie toetse en in ʼn eendagwedstryd vir Sri Lanka gespeel.

Angelo Mathews sal die span weer aanvoer.

T20-krieket is natuurlik ʼn ander spel as vyfdaagse toetse. Die Sri Lankaanse kolwers teen die Proteas se snelaanval mag dalk heeltemal anders presteer, veral teen die ietwat onervare Proteaspan. Maar Imran Tahir kan vir hulle ʼn verrassing wees in hierdie eerste T20-kragmeting tussen die twee spanne in Suid-Afrika.

Sri Lanka het hul uitsoekbouler in die toetsreeks, Suranga Lakmal, en die man wat vier paaltjies in Suid-Afrika se enigste kolfbeurt in die laaste toets geneem het, Nuwan Pradeep behou vir die T20-reeks. Nuwan Kuladekara is terug na hy sy vorm herwin het en sal saam met die spesialis-T20-bouler Isuru Udana ook aan die SA kolwers ʼn paar vrae vra.

Die spanne vir Vrydag se kragmeting wat om 18:00 begin, sal eers voor die wedstryd bekendgemaak word.

Die twee groepe waaruit die spanne gekies sal word –

Suid-Afrika
Farhaan Behardien (kapt), Theunis de Bruyn, Reeza Hendricks, Imran Tahir, Heino Kuhn, David Miller, Mangaliso Mosehle, Lungi Ngidi, Wayne Parnell, Dane Paterson, Aaron Phangiso, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts

Sri Lanka
Angelo Mathews (kapt), Dinesh Chandimal, Danushka Gunathilaka, Seekkuge Prasanna, Niroshan Dickwella, Suranga Lakmal, Nuwan Pradeep, Isuru Udana, Kusal Mendis, Dhananjaya de Silva, Asela Gunaratne, Sachith Pathirana, Lakshan Sandakan, Thikshila de Silva, Nuwan Kulasekara

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.