‘Ons is opgewonde’

Laura Wolvaardt is een van die wêreld se voorste vrouekolwers. Nou kry sy ook die geleentheid om haar vaardighede op die toetsverhoog uit te stal. Foto: Saeed Khan/AFP.

Die Protea-vrouekrieketspan speel Maandag hul eerste toetswedstryd in amper agt jaar wanneer hulle met Engeland in Taunton kragte meet.

Ja, die Suid-Afrikaners het sleg in hul laaste toets teen Indië verloor, terwyl hulle ook bitter min ervaring in dié formaat van die spel het, maar spelers soos Laura Wolvaardt (101) en Anneke Bosch (3/17) het in ’n voorbereidingswedstryd teen ’n Engeland A-span gewys wat hulle kan doen.

Volgens Chloé Tryon, die span se onderkaptein, sal die Proteas konsentrasiegewys op hul beste moet wees as hulle vir Engeland wil aanvat.

“Die kolwers sal langer moet kolf, terwyl die boulers oukei daarmee moet wees om dieselfde lengte beurt ná beurt te handhaaf. Terselfdertyd moet die veldwerkers wakker wees; teen ’n sterk span soos Engeland kan jy nie verbroude vangskote bekostig nie,” het Tryon in ’n onderhoud met Cricinfo gesê.

“Dit is egter ook ’n wonderlike geleentheid vir ons spelers om groot tellings te slaan en baie paaltjies te neem.”

Slegs Tryon, Marizanne Kapp, Trisha Chetty, Lizelle Lee en Shabnim Ismail het enige rooibalkrieketervaring op die internasionale verhoog en ses spelers sal dus Maandag hul toetsbuiging maak.

“Ons speel teen ’n baie sterk span wat uitstekende krieket in hul agterplaas speel. Dit gaan ’n moeilike uitdaging wees, maar ons is opgewonde en ons beskik oor die unieke geleentheid om goed teen Engeland weg van die huis te presteer,” het Hilton Moreeng (afrigter) gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 301/10: Laura Wolvaardt 101 en Sarah Glenn 5/47

Engeland A 276/9 verklaar: Georgia Elwiss 100* en Anneke Bosch 3/17

Suid-Afrika 325/9 verklaar: Andrie Steyn 63 en Grace Potts 3/41

Engeland A 123/3: Eve Jones 59 en Nonkululeko Mlaba 2/33.

  • Protea-groep:  Suné Luus (kaptein), Anneke Bosch, Trisha Chetty, Nadine de Klerk, Lara Goodall, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Lizelle Lee, Nonkululeko Mlaba, Tumi Sekhukhune, Andrie Steyn, Chloé Tryon en Laura Wolvaardt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.