‘Ons kán Indië klop,’ sê krieket se Rassie

Rassie van der Dussen meen die Proteas is goed genoeg om Indië te klop. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Geskiedenis kan inderdaad herhaal word en Protea-krieketliefhebbers sal duim vashou dat dit weer Sondag op Eden Gardens gebeur.

Die Suid-Afrikaners het immers in 2011 met Indië in ʼn Wêreldbeker-wedstryd op sy tuisveld afgereken en ʼn soortgelyke prestasie sal die Proteas se 2023-silwerwaredroom ʼn definitiewe hupstoot gee.

“Dit is altyd ʼn reuse-uitdaging om teen Indië in Indië te speel,” het Rassie van der Dussen gesê.

Die 34-jarige kolwer is Woensdag as die speler van die wedstryd aangewys nadat die Proteas met Nieu-Seeland in Pune afgereken het.

Van der Dussen het 133 lopies in die kragmeting aangeteken en hy is een van die Protea-kolwers wat besig is om die Wêreldbeker-pap dik aan te maak.

Saam met Quinton de Kock en Aiden Markram tel hy onder die voorste lopiemakers in die toernooi, terwyl sy treftempo van 95 ook nie te versmaai is nie.

Suid-Afrika is tans een van die min spanne wat nie net by die onoorwonne Indiërs kan kers vashou nie, maar hulle ook op hul tuisveld kan ore aansit.

“Ons het al vantevore hier in Indië teen hulle gespeel en met hulle afgereken. As ons nou weer speel soos wat ons kan, kan ons onsself in ʼn baie gunstige posisie op die veld bevind.”

Van der Dussen en De Kock het reeds twee keer in die toernooi ʼn kolfvennootskap van 200 lopies geniet en hul flitsende kolwe plaas gereeld hul teenstanders onder druk.

Volgens die Lions-kolwer is dit ʼn voorreg om vir oulaas saam met De Kock op die internasionale eendagkrieketverhoog te speel. Die Protea-paaltjiewagter pak ná die toernooi sy handskoene in dié formaat van die spel weg.

“Hy is meer vasberade as ooit en dit is baie lekker om saam met hom te kolf. Hy het my baie gehelp in my kolfbeurt teen Nieu-Seeland en sy kalm benadering tot die spel is beslis ʼn bate.”

Suid-Afrika speel Sondag teen Indië en die aksie word van 10:30 regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Uitslae van vorige Wêreldbeker-wedstryde tussen Suid-Afrika en Indië:

1992 in Adelaide: Suid-Afrika wen met ses paaltjies

1999 in Hove: Suid-Afrika wen met vier paaltjies

2011 in Nagpur: Suid-Afrika wen met drie paaltjies

2015 in Melbourne: Indië wen met 130 lopies

2019 in Southampton: Indië wen met ses paaltjies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.