‘Ons sal haar vuur en vaart mis’

Shabnim Ismail word deur haar spanmaats geluk gewens. (Foto: Marty Melville/AFP.)

Sy staan sekerlik as Suid-Afrika se vinnigste en beste bouler bekend. Nou het Shabnim Ismail haar internasionale krieketuittrede aangekondig.

Die 34-jarige snelbouler het in ʼn amptelike verklaring gesê dat sy meer tyd saam met haar familie wil deurbring. Sy sal egter steeds by die wêreldwye T20-ligas in aksie wees.

Ismail het altesaam 317 paaltjies op die internasionale verhoog geneem en sy het gereeld kolwers met haar blitsige en aggressiewe boulwerk laat bontstaan.

Sy kan vinniger as 125 km/h boul en het ʼn definitiewe voorliefde om die paaltjies raak te boul.

“Internasionale krieket gaan Shabnim Ismail se vuur en vaart mis. Sy is een van my gunstelingspelers en hopelik sal ons haar nog kan sien speel,” het Harsha Bhogle, bekende Indiese kommentator, getwiet.

Australië se vrouekrieketspan het ook Ismail se lof op sosiale media besing.

Ismail is een van vrouekrieket se vinnigste boulers. Foto: Saeed Khan/AFP.

“Respek! Sy was een van die vurigste spelers en ons wens haar geluk met ʼn uitstekende internasionale loopbaan.”

Sy was ʼn lid van die Protea-vrouekrieketspan wat na die eindstryd van die T20-Wêreldbeker op Nuweland deurgedring het, terwyl sy met die tweede meeste paaltjies (191) in internasionale eendagkrieket spog

Benewens haar paaltjie-laat-spat-vaardighede, is die Kaapstad-boorling ook bekend vir die passie waarmee sy speel en haar goeie veldwerk.

Ismail het altesaam 78 vangskote in haar internasionale loopbaan geneem.

Een van haar beste vertonings in Protea-kleure was teen Pakistan tydens die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland.

Sy moes toe tien lopies van die laaste boulbeurt verdedig en het terstond toegesien dat Suid-Afrika die kragmeting met ses lopies gewen het.

Sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys nadat sy net drie lopies in haar finale boulbeurt afgestaan het en boonop vir Diana Baig met ’n skitterende vangskoot van haar eie boulwerk terug na die kleedkamer gestuur het.

“Ek het genoeg selfvertroue om nie net in só ’n situasie te boul nie, maar ook om die lopiekrane toe te draai,” het Ismail ná die wedstryd gesê.

  • Ismail se internasionale boulstatistieke:

Toetse: Drie paaltjies in een wedstryd teen ʼn gemiddeld van 6,66.

Eendagkrieket: 191 paaltjies in 127 kragmetings teen ʼn gemiddeld van 19,95 en ʼn treftempo van 32,3.

T20: 123 paaltjies in 113 wedstryde teen ʼn gemiddeld van 18,62 en ʼn treftempo van 19,3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Moet se van daai aflewerings lyk nogal vinnig. Gaan nie sommer weer hierdie kwaliteit uitkrap nie. Groot verlies.

Mike ·

Fantastiese speler. Ek nie seker hoe ons haar in die SA opset gaan vervang nie. Daar nie ‘n speler die stadium wat skoene sal kan volstaan nie. Dankie vir wat jy vir vroue krieket in SA gedoen het. Ystervrou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.