Onsekerheid oor pienk bal, kolfblad voor derde kriekettoets

Foto: AP Photo/Rob Griffith

Foto: AP Photo/Rob Griffith

Die onsekerheid oor hoe die pienk bal en die kolfblad hulle gaan gedra, dra by tot die afwagting vir die derde kriekettoets tussen die Proteas en Australië, wat Donderdag op die Adelaide-ovaal gespeel word.

Dit sal die eerste keer wees wat Suid-Afrika ʼn dag-aandtoets met ʼn pienk bal speel, maar hulle het darem in die oefenwedstryde voor die eerste toets en voor hierdie toets ʼn voorsmakie gehad en heeltemal goed gevaar, al was dit maar teen eina-teenstand.

Die Aussies het al meer blootstelling aan dié nuwigheid gehad. Australië het in November verlede jaar die heel eerste dag-aand-pienkbaltoets teen Nieu-Seeland, op dieselfde veld gespeel.

Die boulers het só oorheers dat nie een van die spanne 225 lopies in hulle vier beurte kon aanteken  nie en die toets was na twee en ʼn half dae verby.

Daar was toe baie gras op die kolfblad, wat nie die geval vir hierdie toets gaan wees nie. (Moontlik uit vrees vir die Proteas se gedugte naatboulers!)

♦  Dié toets is vir albei spanne ʼn groot uitdaging. Die Proteas wil uiteraard die reeks met 3-0 wen en die heel eerste span word wat skoonskip maak in ʼn tuisreeks teen die Aussies. Die Australiërs gaan op hulle beurt alles in die stryd werp om ʼn bietjie verlore aansien te herwin nadat hulle in die eerste twee toetse verneder is.

Ses veranderinge is aangebring aan hul groep van 12, waarvan vier debutante is. Hul toetsspan is reeds aangekondig, met een van die nuwelinge, Chadd Sayers, wat die koeldrankies sal aandra.

Net Steve Smith, David Warner, Nathan Lyon en Mitchell Starc van die tuisspan het meer as 20 toetse agter die blad.

♦  Die Suid-Afrikaanse span sal moontlik eers Donderdag aangekondig word. Daar word bespiegel of Morné Morkel sal kans kry om met sy ekstra lengte ʼn bietjie wip uit die blad te kry en die ander nuweling-draaier, Tabriz Shamsi, sal moontlik ook gekies word.

Shamsi het goed gevaar in Saterdag se 50 beurt-oefenwedstryd teen ʼn Victoria-elftal en met die pienk bal, waarvan die naat minder sigbaar is as die tradisionele rooi bal s’n, sal hy as gewrig-draaier na verwagting vir die kolwers moeiliker wees om te ‘lees’.

Die toetswedstryd begin Donderdag 05:30 (SA-tyd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

susan ·

ek is jammer om te se maar die Aussies soek altyd n verskoning as hulle verloor en dit is in al hulle sport. ek wens ons span alles van die beste toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.