Ook Mickey se kontrak nie hernieu

Mickey Arthur. Foto: Cricinfo.

Die man wat Suid-Afrika na toetsseges in Australië en Engeland gelei het, Mickey Arthur, se dae as hoofafrigter van Pakistan se krieketspan is ook getel.

Arthur se kontrak, sowel as dié van Grant Flower (kolfafrigter), Azhar Mahmood (boulafrigter) en Grant Luden (fiksheidsafrigter), sal op 15 Augustus nie hernieu word nie.

Hoewel Pakistan gedurende die afgelope Wêreldbeker-kriekettoernooi met die Proteas afgereken het, het Arthur-hulle ook nie vir die uitspeelrondes gekwalifiseer nie en die afrigters gaan binnekort sonder werk sit.

Arthur, wat vroeër in ’n onderhoud gesê dat dit “fantasties” is om Pakistan af te rig, het aangedui dat hy graag in sy hoedanigheid as hoofafrigter wil aanbly en het gevra om ’n verslag aan die Pakistanse raad voor te lê.

“As ek eendag na my krieketloopbaan terugkyk en ek het nie ’n span uit Asië afgerig nie, sal dit ’n hartseerdag wees,” het Arthur destyds gesê.

Maar die koeël is deur die kerk en die voorsitter van die raad, Eshan Mani, het die vier bedank vir hul bydraes tot span se sukses op die veld

“Namens die Pakistan Krieketraad wil ek vir Mickey Arthur, Grant Flower, Grant Luden en Azhar Mahmood bedank vir hul harde werk en toewyding in hul tyd saam met die span. Ons wens hulle alles van die beste toe,” het Mani gesê.

  • Van Arthur se hoogtepunte as afrigter:
  • Saam met Suid-Afrika: Wêreldbeker-halfeindstryd in 2007, wen toetsreekse in Engeland en Australië. Wêreld se voorste toetsspan in 2009.
  • Saam met Australië: Wen Indië 4 – 0 in hul toetskrieket-agterplaas.
  • Saam met Pakistan: Wêreld se voorste toetsspan in 2016 en wen die Kampioenstrofee in 2017.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanL ·

Suiwer uit krieket-oogpunt die volgende – wat bly daar vir Mickey Arthur oor? Op internasionale vlak is die vraag wie wil hy nog afrig? Watter spanne bly realisties oor wat dalk ‘n behoefte het vir nuwe afrigter? Ons weet SA soek nuwe aftrigter, maar dan weet ons ook KSA sal NOOIT weer vir Mickey aanstel nie. Sou hy regtig belangstel om ander (kliener) internasionale spanne af te rig? Net hy sal weet watse uitdaging dit aan hom sal bied.

Wat my laat wonder in hoe ‘n mate Mickey dalk betrokke sou kon raak by die afrigting van nuwe afrigters? Ek dink hy kan baie bied aan voorgenome afrigters en Mickey sou baie sinvol dink ek kursusse kon aanbied. Maar weer – KSA sal hom nie eers in so hoedanigheid gebruik nie. Hoe tragies.

Alles van die beste aan Mickey in sy besluite wat hy moet neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.