Oorsese kontrakte wink vir Steyn, Amla

Dale Steyn. Foto: IANS.

Een van Suid-Afrika se voorste toetskrieketboulers, Dale Steyn, is op pad na Australië waar hy ses wedstryde vir die Melbourne Stars in die Big Bash League sal speel.

Die 36-jarige Steyn wat vroeër sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het, sal saam met gewese Protea-spanmaats soos Chris Morris (Sydney Thunder) en AB de Villiers (Brisbane Heat) in Australië in aksie wees.

Hoewel hy nie meer rooibalkrieket vir Suid-Afrika sal speel nie, is hy steeds nasionaal gekontrakteer en beskikbaar vir eendag- en T20-toernooie.

Hy is egter oor die hoof gesien vir die afgelope T20-reeks teen Indië. Op sy amptelike Twitter-rekening het hy geskerts dat die keurders waarskynlik sy selfoonnommer verloor het.

Op hul beurt het die keurbase aangevoer dat hy nog nie genoegsaam van sy skouerbesering – wat sy Krieketwêreldbeker-veldtog kortgeknip het – herstel het nie. Steyn het egter gevoel hy is wel gereed vir aksie.

Hashim Amla op die voorvoet. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Hy sal nou vir die Cape Town Blitz in die Mzansi Superliga speel, waarna hy sy sakke vir Australië sal pak.

Volgens Cricinfo is die kanse baie goed dat Hashim Amla ’n kontrak van twee jaar met die Engelse graafskap, Surrey, kan onderteken.

Die 36-jarige voormalige Proteakolwer het ná die Wêreldbeker-toernooi in Engeland sy uittrede uit alle internasionale krieket aangekondig.

Daar word berig dat die Surrey-kontrak teen die einde van die week in die sakkie sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefaans ·

Dale Steyn gaan nie eers die eerste wedstryd klaar maak nie, dan is hy weer beseer…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.