Opslagbalmeester Wagner groet toetskrieket

Nieu-Seeland se Neil Wagner. (Foto: William West/AFP) 

Die afgelope toets teen Suid-Afrika in Hamilton was Neil Wagner se laaste wedstryd vir die Swartpette.

ʼn Emosionele Wagner het vandag sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig nadat hy nie deel van Nieu-Seeland se planne vir die eerste toets teen Australië is nie.

Volgens die 37-jarige speler is dit nooit maklik om iets te groet wat ʼn onlosmaaklike deel van jou lewe was nie.

“Ek het elke liewe oomblik geniet om vir Nieu-Seeland toetskrieket te speel en ek is trots op alles wat ons as ʼn span bereik het. Dit is egter tyd dat ander spelers die groep na groter hoogtes neem,” het Wagner gesê.

Die linkshandige snelbouler is ʼn oudleerder van Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria en hy het in 2008 sy tasse vir Nieu-Seeland gepak waar hy vir Otago gespeel het.

In 2012 het hy sy buiging vir die Swartpette gemaak en hy het uiteindelik 260 paaltjies vir die Kiwi’s laat spat.

“My spanmaats beteken ongelooflik baie vir my en ek wou nog altyd net doen wat die beste vir die span was. Ek hoop van harte dat mense my as só ʼn speler sal onthou.”

“Ek het myself nooit as die mees talentvolle speler beskou nie, maar wel as iemand wat mal is oor die sport en om vir die span en my spanmaats te speel.”

Hoogtepunte was daar natuurlik volop.

Daar was die eerste toetsoorwinning teen Indië in 2014, die kolfheldedade om die toets teen Engeland in 2018 te beredder en die sege in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen die einste Indiërs.

Maar een van sy grootste persoonlike triomftogte was verlede jaar teen die Engelsmanne in Wellington.

As die Duitse komponis Richard Wagner bekend was vir sy operas en boeiende musiek, dan moet die krieketspelende Wagner net so berug vir sy opslagbal-simfonie wees.

Die snelbouler het in Engeland se tweede kolfbeurt die belangrike paaltjies van Ollie Pope, Joe Root en Ben Stokes geneem voordat hy van James Anderson ontslae geraak het om die wedstryd met een lopie vir sy span te wen.

“Dit was ʼn ongelooflike vertoning en elke liewe speler het sy deel gedoen. Dit is maar hoe ons span aanmekaargeslaan is – ons hou net aan speel en gooi nooit die handdoek in nie,” het Wagner destyds gesê.

Wagner vier James Anderson se paaltjie. Nieu-Seeland het Engeland met een lopie in Wellington geklop. Foto: Marty Melville/AFP.

Volgens Tim Southee was die Suid-Afrikaans gebore ster ʼn speler waarop sy spanmaats altyd kon reken.

“Hy sou enigiets vir die span doen en hy verdien almal se respek en waardering. Ek het ʼn hegte vriendskap met Neil opgebou en ek is oortuig dat ons nog vir jare maats sal wees,” het die Swartpet-kaptein gesê.

Wagner se toetskrieketstatistieke:

In sy 64 toetse het hy 260 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 27,57 en ʼn treftempo van 52,7 geneem, terwyl hy sewe paaltjies in ʼn beurt teen die Wes-Indiese Eilande laat spat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Fantastiese speler vir New Zealand! Werklik n opslagbal meester. Internationale Krieket sal jou mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.