Oudkrieketster veg vir sy lewe

Chris Cairns (links) vier ’n paaltjie. Foto: William West/AFP.

Chris Cairns, die voormalige Nieu-Seelandse krieketster, veg vir sy lewe in ’n Australiese hospitaal.

Die 51-jarige speler sukkel al geruime tyd met sy gesondheid en hy is nou aan ’n lewensondersteuningstelsel in ’n Canberra-hospitaal gekoppel. Dit blyk dat hy verlede week ’n aortadisseksie gehad het – ’n ernstige mediese noodtoestand waartydens ’n skeur aan die binnewand van die hoofslagaar ontstaan.

Volgens berigte reageer hy nie op die dokters se behandeling nie en hy sal later na ’n spesialishospitaal in Sydney oorgeplaas word.

Cairns het die Swartpette in 62 toetse en 215 eendagwedstryde verteenwoordig en hy was een van wêreldkrieket se voorste veelsydige spelers. Hy het in sy toetsloopbaan 218 paaltjies geneem en 87 sesse (destyds ’n wêreldrekord) geslaan.

Hy het in 2002 op die Gabba-krieketveld die wedstryd eiehandig vir Nieu-Seeland met sy onoorwonne beurt van 102 teen Suid-Afrika gewen.

Die Nieu-Seelanders moes toe 242 lopies vir ’n oorwinning aanteken en hulle het met hul telling op 98/5 gesteier, voordat Cairns se warrelwindbeurt (wat 12 grenshoue ingesluit het) die wedstryd vir die Kiwi’s beklink het.

“Ek bid vir Chris en sy gesin. Dit is ’n aaklige situasie waarin hy hom bevind en ek hoop vir die beste,” het een van Cairns se voormalige spanmaats, Andre Adams, op sosiale media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.