Paarl Rocks kies vir Verreynne

Kyle Verreynne. Foto: ANA.

Die tweede weergawe van die Mzansi Superliga T20-reeks begin op 8 November en die Paarl Rocks moes inderhaas ’n plaasvervanger-kolwer in die plek van die beseerde Aiden Markram gekry het.

Die 24-jarige Markram het sy gewrig beseer toe hy na ’n harde voorwerp geslaan het nadat hy kort vantevore vir sy tweede agtereenvolgende nulletjie in die tweede toets teen Indië uitgehaal is. Hy het die daaropvolgende toets misgeloop en is terug na Suid-Afrika.

Met die Mzansi-kompetisie om die draai, het die Paarl Rocks-afrigter, Adrian Birrell, vir die talentvolle Kyle Verreynne nadergetrek.

Die jong kolwer van die Cape Cobras het pas twee agtereenvolgende honderdtalle (155 en 115) teen die Titans in ’n meerdaagse wedstryd geslaan.

“Kyle sal definitief meer slaankrag aan ons kolflys verleen en hy kan ook ’n rol as ’n plaasvervanger-paaltjiewagter speel,” het Birrell gesê.

Verreynne is definitief ’n kolwer vir die toekoms en hy kolf teen ’n gemiddeld van 52.57 in meerdaagse krieket, terwyl sy gemiddeld van 24.00 glad nie te sleg vir blitskrieket is nie.

Intussen het die uitvoerende hoofbeampte van die Paarl Rocks, James Fortuin, vir Markram ’n voorspoedige herstelproses toegewens en terselfdertyd die hoop uitgespreek dat hy volgende jaar weer in die kleure van die Paarlse span sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werner ·

Kyle is die beste paaltjiewagter in die land en kolf op nommer 3. Dis wat die proteas mis. Ek voorspel dat hy een van die top 5 lopie-makers in die Msanzi-reeks gaan wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.