Paarliet kelder Proteas se kanse om reeks te wen

Dawid Malan se verwoestende beurt van 78 klop die Proteas. (Foto: Facebook)

Dawid Malan, wat in Engeland gebore is maar in Suid-Afrika grootgeword en sy krieket aan Boishaai in die Paarl geleer het, het Suid-Afrika se kans om die T20-reeks teen Engeland te wen, gekelder.

Engeland het die beslissende wedstryd in die reeks van drie Sondag in Cardiff met 19 lopies gewen in  ʼn wedstryd waar Suid-Afrika feitlik nooit in beheer was nie.

Malan, wat in Engeland gebore is maar in Suid-Afrika grootgeword en by die Paarl Hoër Jongenskool skoolgegaan het, het op amper 30-jarige ouderdom sy buiging op die internasionale krieketverhoog gemaak en uit die staanspoor die Proteaboulers laat les opsê.

Hy het die eerste Engelse speler geword wat met sy internasionale buiging ʼn vyftigtal in T20-krieket kon slaan en is as speler van die wedstryd aangewys.

Engeland se eerste paaltjie het in die tweede boulbeurt geval toe Jason Roy op 13/1 uitgehaal is. Toe het Malan kom kolf. Hy was verwoestend en het 78 lopies in 44 balle gemoker, insluitende twee sesse en 12 viere – ʼn volle 60 lopies in grenshoue. Alex Hales het Malan goed ondersteun en hulle 100-vennootskap is na slegs 63 balle bereik. Malan het 69 daarvan aangeteken.

Hales is in die 14de boulbeurt op 36 lopies in 28 balle van Andile Phehlukwayo se boulwerk gevang en Engeland was 118/2 in ʼn sterk posisie. Jos Buttler het ʼn waardevolle 31 van 21 balle aangeteken maar die ander kolwers het nie te waffers gevaar nie.

Suid-Afrika was eintlik net vir die laaste vyf van hulle 20 boulbeurte in beheer. Dane Paterson (4/32) en Phehlukwayo het toe uitstekend geboul om te verhoed dat Engeland nie ʼn telling van meer as 200 op die telbord plaas nie.

Paterson het in elk van sy laaste twee beurte twee paaltjies in twee balle geneem maar elke keer sy driekuns misgeloop.

Engeland het in hulle 20 boulbeurte met 181/8 geëindig en ʼn redelike groot uitdaging aan die Proteas gestel, hoewel die kleinerige veld die teiken baie haalbaar gemaak het.

♦  Suid-Afrika se kolwers kon weer nie die mas opkom nie. Reeza Hendricks het met ʼn nulletjie weer misluk. Sy aanvangsmaat JJ Smuts het goed gelyk maar sy bydrae van 29 van 30 balle was nie goed genoeg nie. AB de Villiers het wonderlike sesse en viere geslaan maar sy 35 van 19 balle kon nie die situasie red nie.

Soos Smuts is hy op die middebaangrens deur Hales uitgevang.

David Miller, onlangs nog die held in die eendagreeks, het weer misluk. Die paaltjiewagter, Mangaliso Mosehle, en Phehlukwayo het ʼn hardnekkige vennootskap opgebou maar daar was te veel om te doen. Mosehle het 36 onoorwonne lopies aangeteken wat vier sesse ingesluit het. Phehlukwayo het 27 in 20 balle met vier viere geslaan.

Hulle het darem so ʼn bietjie aansien aan die Proteas se beurt gegee wat op 162/7 geëindig het met net vier van die nege kolwers wat dubbelsyfers behaal het.

Kry die volledige telkaart deur te klik op http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031435.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Ek was altyd onder die indruk dat wanneer daar internasionale kompetisie is word die land se beste spelers gekies om die land se eer te verdedig. Ons trots is op die spel en wen die motief.
Kwotas daar gelaat; deesdae is daar gedurig internasionale reeks en die wenmotief blyk tweede viool te speel – die wedstryde word gebruik om geleentheid te bied vir oefening, om opkomende spelers geleentheid te gee om blootstelling te kry ander spelers die kans te gee om te rus!
Genade, oefen by jul provinsies, gee een of twee nuwelinge kans om saam met die seniors in ordentlike toetse te speel soos vanouds. Normale mense kry ongeveer drie weke per jaar rustyd (vakansie ) en as jy gelukkig is 3 dae kraamverlof), terwyl ons krieketspelers besluit wanneer hulle moeg is of lus is om hul verpligtinge na te kom soos dit hulle pas ; welke verpligtinge die IPL insluit wat hulle pas. Dit is uiters onvanpas, beledigend en arrogant soos sommiges besluit waar en wanneer hulle bereid is en onder watter omstandighede hulle hul land sal verteenwoordig. Sportmanne moet besef dat hul loopbane afhang van borgskappe. Normale mense werk en dra by tot die ekonomie terwyl die sportmanne hoofsaaklik in die vermaaklikheidswereld hul talente tentoonstel – heel beste is dat hulle dan as voertuie dien vir borge om produkte beken te stel.
Dit is ‘n voorreg om vir jou land gekies te word – sportmanne/vroue, respekteer asb jul land en landgenote en diegene wat jul salarisse betaal

Morne van Dyk ·

Sorry, Waar was hy op skool? Boishaai. Alida waar is dit?

Wim van der Berg ·

Morne
Boishaai is, soos in die gevalle van ondermeer Monnas, Affies en Gimmies die gebruik is, die algemene sport-bynaam van die Paarl Hoër Jongenskool (Paarl Boys High). Die amptelike naam word dan ook in die derde paragraaf van die artikel gebruik.
Dit word in die inleidingsparagraaf gemeld dat dit in die Paarl is.

Lance ·

Dankie vir die stert van die proteas,stert swaai die kolf As dit nie vir hulle was nie het Engeland ons gemors,swak kolf werk van openings kolwers,as jy nie eers vir Bangladesh kan klop nie hoe wil jy die ander groot lande klop.Wat het Hendricks en Miller bygedra tot die reeks ?

WitBlits ·

Welgedaan Dawid Malan!

Jou ouers het jou ‘n moewiese guns gedoen dat jy Engelse burgerskap kon kry, want as jy hier gebly het sou jy seker nie eers franchise (provinsiale) krieket gespeel het vanwee jou ras nie en op meriete verdien jy dit om met die bestes in die wereld te kompeteer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.