Pakistan bestendig ná Rabada-blitzkrieg

Kagiso Rabada in aksie teen Pakistan. Foto: Twitter.

Ná ’n moeilike dag met die kolf het die Protea-boulers goed op die eerste dag van die Karatsji-toets teruggeveg om van vier Pakistan-kolwers ontslae te aak.

Kagiso Rabada, wat sy eerste toets in maande speel, het laat in die middag met vuur en aggressie geboul. Hy het die oneweredige wip van die kolfblad tot sy voordeel gebruik om Abid Ali en Imran Butt uit te knikker.

Voeg daarby Keshav Maharaj se deurslaggewende bydrae om van die gevaarlike Babar Azam ontslae te raak, sowel as Anrich Nortjé se vaart wat een te veel vir die naguiltjie was; en die Proteas kan heel in hul noppies met die dag se verrigtinge wees.

Azhar Ali en Fawad Alam het egter vanoggend met hul reddingspoging begin.

Die twee het met Pakistan se telling op 27/4 bymekaar gekom en die tuisspan se skip na veilige waters gestuur.

Pakistan het tans 90/4 op die telbord en die Protea-snelboulers het by tye gesukkel om hul grootste wapen – omgekeerde swaai – doeltreffend te benut.

Veral Lungi Ngidi se radar het hom in die steek gelaat en die kolwers kon met gemak baie van sy aflewerings verby laat gaan.

  • Opsomming van Pakistan-beurt:

90/4: Fawad Alam 35, Azar Ali 29 en Kagiso Rabada 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.