Parsons se flitsende kolf gee hoop

Bryce Parsons in aksie teen die Verenigde Arabiese Emirate. Foto: Twitter.

Ja, gister was daar Rassie van der Dussen se 98 lopies en ja, daar was Anrich Nortjé se 18 paaltjies en Quinton de Kock se 380 lopies in die reeks teen Engeland.

Goeiste, daar was selfs Faf du Plessis se briljante vangskoot om van Joe Root op die Wanderers ontslae te raak.

Maar in ’n tydperk waar jy na grashalms moet gryp om iets positiefs oor Suid-Afrikaanse krieket te vind, bied die Proteas se o. 19-kaptein ’n bietjie lig aan die einde van ’n donker tonnel.

Die 18-jarige Bryce Parsons is tans die voorste lopiemaker by die o. 19-Wêreldbekertoernooi hier in Suid-Afrika.

In drie wedstryde het hy reeds 245 lopies teen ’n gemiddeld van 81,66 geslaan. En waar dit met tye lyk asof die senior Proteas half skrikkerig is om die leerbal te looi, slaan Parsons sy lopies teen ’n treftempo van 113,42.

Sy boulwerk is ook baie handig. Foto: Twitter.

Boonop is hy ook ’n speler vir die groot oomblik. Hy het sy hoogste telling (121 teen Kanada) in die Wêreldbeker-toernooi geslaan; dít terwyl uitklopkrieket tradisioneel enige Suid-Afrikaanse krieketspan se achilleshiel is.

Dan was hy saam met Gerald Coetzee die enigste kolwers wat weerstand teen Afganistan se draaiers in die openingswedstryd kon bied.

Parsons het 40 lopies van 42 balle in dié wedstryd geslaan. Die res van Suid-Afrika se topordekolwers kon slegs 27 lopies tussen hulle bymekaarskraap.

Die jong Proteas speel Donderdag in die kwarteindstryd van die reeks teen Bangladesj. En alhoewel hulle nog lank nie die wêreldkampioenspan is nie, sal Parsons se loopbaan goed deur Krieket Suid-Afrika bestuur moet word.

Daar is drie Protea-kolwers onder die top-20 in die reeks.

  1. Bryce Parsons: Drie beurte, 245 lopies teen ’n gemiddeld van 81,66 en ’n hoogste telling van 121.
  2. Luke Beaufort: Drie beurte, 141 lopies teen ’n gemiddeld van 47,00 met ’n hoogste telling van 85.
  3. Jonathan Bird: Drie beurte, 97 lopies teen ’n gemiddeld van 32,33 met ’n hoogste telling van 54.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.