Party Aussies wil hê Justin moenie Langer bly

Australië se Justin Langer. Foto: Willam West/AFP.

Daar is niks wat kritici meer skietgoed gee as ’n reeksnederlaag op tuisbodem nie. Dit is presies wat Australië se krieketafrigter, Justin Langer, besef het.

Indië het onlangs ’n merkwaardige terugvegpoging teen die Aussies van stapel gestuur om die reeks met 2 – 1 te beklink. Boonop was hulle sonder die dienste van Virat Kohli gewees én hulle was vir ’n skamele 36 lopies in Adelaide uitgeknikker.

Krieket is een van Australië se gewildste sportsoorte en Langer – ’n berugte knorpot – is nou in die oog van die storm vasgevang.

Volgens ’n berig in die Sydney Morning Herald is sommige spelers ontevrede met die hardebaard voormalige openingskolwer se wispelturige humeur en sy skoolhoof-benadering om dissipline af te dwing.

Langer het glo hopeloos te veel druk op sy snelboulers geplaas om die beslissende toets op die Gabba te wen. Statistiek en ’n spul wedstrydplanne is gedurende die middagete-pouse op hulle afgedwing.

Die 50-jarige Perth-boorling het egter vuur met vuur beveg in sy repliek op die bewerings.

“Leierskap is nie ’n gewildheidskompetisie nie. As die spelers iemand soek wat heeltyd hul magies kielie, doen ek vir seker nie my werk behoorlik nie,” het hy gesê.

Langer het in sy speeldae saam met Matthew Hayden een van die wêreld se gedugste openingskolwer-kombinasies gevorm en hy was bekend vir sy kanniedood-houding op die veld.

Hy het ook die bewerings ontken dat hy statistiek by sy boulers se keelgatte afgedwing het.

“Ek praat nooit oor statistiek met die boulers nie. Ek woon nie eens hul vergaderings by nie – dit is waarvoor die boulafrigter daar is.”

’n Ander klagte is dat hy ’n speler beveel het om ’n toebroodjie uit sy broeksak te haal voordat hy op die veld gegaan het.

“Ons probeer ons bes om ’n toets teen Indië te wen en hier loop een van ons spelers met ’n toebroodjie in sy hand rond. Hoe het hy gedink lyk dit?”

Tog erken hy dat hy soms te knorrig kan wees.

“Ek is altyd bereid om na kritiek te luister. Ek doen dit trouens al my hele lewe lank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Die Wolf ·

Gee hom iets. Die hedendaagse spelers dink hulle mag nie aangespreek word nie en is verhewe bo kritiek. Ek sou daardie speler dadelik geskors het. Eerlikwaar? Wat n belediging vir jou land en medespelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.