PGA-reeks: Spieth droom weer groot

Jordan Spieth (Foto: Jordan Spieth/Facebook)

Jordan Spieth het vir byna vier moeilike jare hieroor gedroom, hoe om om weer ʼn gholftoernooi in die Amerikaanse PGA-reeks te wen.

Hy het Saterdag op ʼn windverwaaide Pebble Beach-baan in Kalifornië die voortou in die AT&T Pro Am-toernooi behou toe hy 71 houe in die derde ronde aangeteken het.

Ná sy eerste twee rondtes van 65 en 67 is hy op 203 om met twee houe voor te loop.

Spieth poog om sy verloordroogte te breek nadat hy laas in 2017 op Royal Birkdale die Britse Ope gewen het.

Hy het vier jaar gelede ook op Pebble Beach voorgeloop … en toe geseëvier.

Maar toe het dinge verkeerd begin loop waarop hy eintlik geen antwoorde het nie.

Hy word gevolg deur vyf spelers op 205. Hulle is Daniel Berger (72), Tom Hoge (68), Russel Knox (69), Patrick Cantlay (70) en Nate Lashley (68).

Suid-Afrika se Branden Grace is 44ste nadat hy 73 houe in die derde ronde vir ʼn totaal van 213 houe aangeteken het.

Spieth was in 2017 op die kruin van die golf en net duskant sy 24ste verjaarsdag.

Maar soos soveel spelers voor en na hom, is hy in ʼn greep van onsekerheid vasgevang waaruit hy vir drie jaar poog om te ontsnap.

Hy is egter ʼn vegter soos min en net soos ʼn hele paar jaar gelede toe hy sy pad moes oopveg om sy spelerskaart te verdien, sal die wêreld se 92ste beste speler weer moet leer hoe om te wen. Hy was verlede week in dieselfde bootjie, maar het toe in die pylvak vasgeval. Nou kan hy van al daardie nagmerries vergeet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.