Philander die held in grootse terugvegpoging

Vernon Philander word deur sy spanmaats geluk gewens na die laaste paaltjie van die wedstryd (Foto Twitter @ESPNcricinfo)

Die welkome reën wat Sondag in Kaapstad geval het, het Maandag sy rol in die dramatiese en spannende eerste toets in die reeks tussen die Proteas en Indië gespeel.

Op ‘n dag waarop die boulers aan albei kante teen twee sterk kolfspanne oorheers het, het nie minder nie as 18 paaltjies in presies 64 boulbeurte vir 200 lopies op Nuweland geval in die wipplanktoets wat met 72 lopies deur Suid-Afrika gewen is.

Albei spanne se boulers was uitstekend, maar die held van die tuisspan en speler van die wedstryd, Vernon Philander, het met sy beste toetsontleding van 6/42 die Indiese kolfrug gebreek en met die laaste drie paaltjies in vier balle die wedstryd beklink.

Die kolfwerk was alles behalwe sleg. Nuweland se kolfblad, na Sondag se reën en 36 uur onder die seile, was ʼn groot uitdaging teen die goeie boulwerk.

Die Proteas se 65/3 met uitskeityd Saterdagmiddag het binne 40 balle na 82/5 verander en op 95/7 was hulle diep in die knyp met net AB de Villiers van die erkende kolwers wat oor was.

De Villiers was uiteindelik die laaste man uit toe hy vir 35 op die grens uitgevang is. Hy het etlike enkellopies met eers Keshav Maharaj en toe Morné Morkel van die hand gewys om hulle nie aan die boulwerk bloot te stel nie.

Só in die knyp was die Proteas dat die beseerde Dale Steyn kom kolf het, vyf balle getrotseer en toe saam met de Villiers van die veld gestap toe dié uit is.

Bhuvneshwar Kumar (2/33), Jasprit Bumrah (3/93), Mohammed Shami (3/28) en Hardik Pandya (2/27) het met gedissiplineerde boulwerk die toestande pragtig uitgebuit en Suid-Afrika tot 130 lopies beperk.

♦ Die 208 lopies het na ʼn onaanvaarbare lae teiken gelyk. Maar die Proteas se vertroue in hulle snelaanval en die terugvegpoging omdat hulle geglo het hulle kán op die blad, sou uiteindelik die deurslag gee.

Daar was by ondersteuners ongetwyfeld ʼn gevoel dat die toets buite bereik was, veral toe Indië se eerste paaltjie eers op 30 geval het met die teiken ʼn skamele 208 lopies.

Soos die tuisspan se kolwers die oggend, het Indië dit ook moeilik op die blad gevind en voor lank was dit 39/3. Dit het moeiliker vir hulle geword toe die omgekeerde swaai vir die boulers ingeskop het.

Maar toe het Virat Kohli (28) gewys waarom hy as een van die huidige grotes gereken word voordat hy deur Philander beenvoor op 71/4 betrap is. Toe dit 82/7 was, het dit gelyk of die toets vir die Proteas in die sakkie was.

Maar toe het Ravishandran Ashwin (37) saam met Kumar die telling na 131 gevoer. Hulle was in beheer en die Proteas se ondersteuners toenemend benoud – totdat  Philander die laaste drie paaltjies binne vier balle geneem het.

Die werklike deurbraak het gekom met die vangskoot van Quinton de Kock, wat in die 42ste boulbeurt teen die paaltjies stelling ingeneem het, toe hy Philander se eerste aflewering van die beurt skitterend van Ashwin se kolf af gevat het. En toe was als verby …

Kagiso Rabada was op sy vinnigste en beste; Morné Morkel was beter as in die eerste beurt en Philander het op sy tuis- en gunsteling veld die druk geplaas en gehou. Rabada (2/39) en Morkel (2/39) het hom goed bygestaan en die veldwerk was uitstekend, met die uitsondering van ʼn maklike hoë vangskoot wat Maharaj laat val het toe hy in die son ingekyk het.

Vir die volledige telkaart en verder statistiek, klik op die skakel http://www.espncricinfo.com/series/18065/scorecard/1122276/south-africa-vs-india-1st-test-ind-in-sa-2017-18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

Wag tot India Rahane, Sharma terug in die span is, hoekom IND hul gedrop het, weet ek nie. Indie kan gerus begin kyk na n meer veelsuidige keeper as Saha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.