Piedt en Paterson se paaltjieplesier

Dane Piedt het vyf paaltjies in Nieu-Seeland se eerste beurt geneem. (Foto: Fiona Goodall/AFP)

Wie sou ooit kon raai dat die Proteas ʼn voorsprong in die tweede toets teen die Swartpette in Hamilton sou geniet?

Maar Dane Piedt (5/89) en Dane Paterson (3/39) het uitstekend gekombineer om die Nieu-Seelanders vir 211 lopies in hul eerste beurt uit te haal.

Dit beteken dat Suid-Afrika – wat vroeër vir 242 lopies uitgeboul is – aan ʼn voorsprong van 31 lopies vasklou.

Glad nie sleg vir ʼn span wat in die eerste toets op die Bay Oval ongetwyfeld die kanvoer-etiket om die nek gedra het nie.

Paterson het die bal aan die rol gesit toe hy Devon Conway vir ʼn nulletjie in die eerste boulbeurt van die Kiwi-kolfpoging uitgehaal het.

Daarna het Tom Latham en Kane Williamson gedreig om die momentumskaal in die tuisspan se guns te swaai, maar Piedt het hulle uitgehaal voordat hulle te veel skade kon aanrig.

Tshepo Moreki het ook tot die Suid-Afrikaners se goeie vertoning bygedra toe hy vir Rachin Ravindra vir 29 lopies skoongeboul het.

Ravindra het in die eerste toets ʼn dubbele honderdtal aangeteken.

Nieu-Seeland was in die moeilikheid met sy telling op 170/8, maar Neil Wagner het ietwat tot sy span se redding gekom.

Die Suid-Afrikaans gebore snelbouler het 33 vinnige lopies aangeteken om vir ʼn tikkie meer telbordaansien te sorg.

Tog verdien die Proteas lof vir hul veggees en bereidwilligheid om beter krieket te speel. Kaptein Neil Brand glo ongetwyfeld in sy span se vermoë en veerkragtigheid.

Die wedstryd is nog lank nie verby nie, maar die tweede dag se spel behoort beslis aan Suid-Afrika.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 242/10 in 97,2 boulbeurte: Ruan de Swardt 64, David Bedingham 39 en William O’Rourke 4/59.

Nieu-Seeland 211/10 in 77,3 boulbeurte: Kane Williamson 43, Dane Piedt 5/89 en Dane Paterson 3/39.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Dit is wat gebeur as jy nog daai tikkie trots in jou het.Hierdie is ‘n relatief onervare span en ek hoop die afrigter en keurders maak regmerkies agter die uitblinkers vir die toekoms veral die kaptein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.