Pienk geluk na ʼn lang wipplank-krieketdag

Al was die hoop min, het menige Suid-Afrikaanse krieketondersteuner tóg geglo die Proteas kan kop oplig en Indië ʼn drag slae in die vierde eendagwedstryd op die Wanderers gee.

En die hoop het nie beskaam nie. Die Proteas het voor dié wedstryd Saterdag gespog met sewe uit sewe oorwinnings in hierdie “pienk-kragmetings” ter ondersteuning van die stryd teen borskanker.

Die nommer een-eendagspan in die wêreld het gewys hulle kán terugveg, al het dit heelwat geluk ingesluit. Suid-Afrika het met nog 15 balle oor (D/L-metode) ʼn uitstekende oorwinning van vyf paaltjies behaal en daarmee ʼn kans geskep om die reeks nog te deel.

♦  Met AB de Villiers terug in die span was die verwagting groot. En ja, dit hét beter gegaan. Die reekstelling is nou 3-1 in die guns van Indië met twee wedstryde wat oorbly.

Indië se kaptein, Virat Kohli, het die loot gewen en besluit om eerste in die volgepakte stadion te kolf.

In die eerste drie wedstryde het Indië se draaiers 21 paaltjies geneem teenoor Suid-Afrika se draaiers wat slegs drie paaltjies kon plattrek. Die Proteas het geen draaibalboulers vir hierdie wedstryd ingespan nie hoewel JP Duminy as deeltydse draaier gebruik is.

Die Indiese aanvangskolwer Shikhar Dhawan het sy derde agtereenvolgende vyftigtal behaal en voortgegaan om ʼn honderdtal in sy honderdste eendagwedstryd aan te teken – die eerste Indiese speler wat dit kon vermag.

Kohli (75) het saam met Dhawan (109) ʼn vennootskap van 158 lopies opgestel en Indië op koers gekry na ʼn redelike totaal ná hulle eerste paaltjie op 20 geval het.

Die Indiese beurt is egter deur reën en weerlig onderbreek toe die telling 200/2 na 34.2 boulbeurte was.

Ná die hervatting van spel het Indië gereeld paaltjies verloor en kon net nie die momentum terugkry nie, en ná 50 boulbeurte was hul totaal 289/7 – heelwat minder as waarop hulle in ʼn stadium gehoop het. MS Dhoni was nie uit nie met 42 lopies.

Met die bal het Kagiso Rabada en Lungi Ngidi elk twee paaltjies platgetrek.

In die Proteas se lopie-jaagtog het Aiden Markram sy paaltjie vir 22 lopies verloor met die totaal op 43/1 na 7.2 boulbeurte. Spel is toe weer deur reën onderbreek en 22 boulbeurte het verlore gegaan.

Met die hervatting van spel is die aantal boulbeurte na 28 aangepas en die teiken vir die Proteas was 202 lopies.

Die draaiballe van Yadav het egter die einde van Duminy (10) en Hashim Amla (33) beteken. AB de Villiers en David Miller het vir ʼn wyle goed gevaar totdat AB op die grens vir 26 uitgevang is.

Die Proteas se groot geluk het gekom toe Miller met sy telling op sewe laat val is en ook van ʼn foutbal skoongeboul is.

Hierna het Miller die langsteel ingelê en 39 lopies van 28 balle gemoker om die Proteas ʼn wenkans te gee. Die paaltjiewagter Heinrich Klaasen (43 lopies, 27 balle) en Andile Phehlukwayo (23 van net vyf balle, drie sesse en een vier) het seker gemaak die Proteas behou ʼn aanspraak in die reeks.

Die Proteas kan die reeks nog deel met twee wedstryde wat oorbly. Die vyfde eendagwedstryd word Dinsdag in Port-Elizabeth gespeel.

Klik hier vir die telkaart en meer inligting: http://www.espncricinfo.com/series/18065/game/1122282/south-africa-vs-india-4th-odi-ind-in-sa-2017-18/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tom ·

Wipplank liewer? Maar hulle wip lank heen en weer, is seker ook waar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.