Pienk Proteas bloos amper bloedrooi

Die Proteas vier fees nadat Aiden Markram vir Fakhar Zaman uitgehardloop het. Die Suid-Afrikaners het die wedstryd met 17 lopies gewen. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Die Proteas hou daarvan om in pienk op die Wanderers te speel. Dink maar net aan AB de Villiers se blitshonderdtal teen die Wes-Indiese Eilande, terwyl hulle ook meer van dié wedstryde wen as verloor.

Maar vandag het Pakistan gesorg dat hulle so byna bloedrooi bloos. En dit was alles te danke aan Fakhar Zaman se reusebeurt van 193 lopies.

Die 30-jarige openingskolwer het 18 viere en tien sesse in sy beurt geslaan om amper eiehandig die wedstryd vir die besoekers te wen.

Te danke aan Zaman moes Temba Bavuma tot in die 50ste boulbeurt oor sy veldwerkplasings en boulveranderings kopkrap en die Proteas het ’n groot sug van verligting geslaak toe hy uiteindelik uitgehardloop is.

Die Suid-Afrikaners het aanvanklik gedink dat hulle hierdie een maklik sou wen.

Quinton de Kock (80) en Bavuma (92) het die grondslag vir kolwers soos Rassie van der Dussen (60 van 37 aflewerings) en David Miller (50 van 27 aflewerings) gelê om die langsteel met mening in te lê.

Veral Van der Dussen moet geloof word vir die wyse waarop hy sy twee beurte in die reeks benader het. In Centurion moes hy aanvanklik konserwatief kolf om die kastaiings uit die vuur te krap, terwyl hy vandag onmiddellik met sy grenshou-blitzkrieg begin het.

Anrich Nortjie. Foto:Christiaan Kotze / AFP.

’n Telling van 341/6 was ’n baie mededingende telling. Veral toe Anrich Nortjé (3/63) binne ’n japtrap van Babar Azam, Mohammad Rizwan en Danish Aziz ontslae geraak het.

Maar as hierdie wedstryd met ’n TV-speletjie van die 1990’s vergelyk kon word, het Zaman ongetwyfeld die enkelspeler-opsie gekies om op sy eie die Protea-boulers te laat bontstaan.

Ja, die Proteas het die wedstryd met 17 lopies gewen om die reeks lewendig te hou, maar dit was ’n naelbyt-storie gewees wat Bavuma se kapteinskapvermoëns tot die uiterste beproef het. Tog kan hulle trots wees op die oorwinning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Proteas se veldwerk nie op standard en 2 wydlopers na mekaar is onaanvaarbaar op die vlak.

Dirk Mostert ·

Waarom is Markram van die boulaanval onttrek na 4 ekonomiese boulbeurte? Hy kon deurgeboul het tot die 49ste boulbeurt. Om kwotaspelers hul kwota boulbeurte te gee? Die na hom is behoorlik “uit die veld geslaan”, o.a. Shamzi se 5 sesse, waarvan 3 van agtereenvolgende aflewerings. Die kaptein het die boulers swak afgewissel. Alle eer egter aan ons topkolwers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.