Pienk Proteas maak sake gelykop

Kagiso Rabada het met ’n boulontleding van 5/39 gespog. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

Temba Bavuma het ná Vrydagaand se verrassende nederlaag in die eerste eendagwedstryd teen Bangladesj gesê dat daar hard met die Protea-kolwers en -boulers gepraat moet word.

’n Mens weet nie noodwendig wat die Proteas-witbalkrieketkaptein se presiese woorde was nie, maar dit het duidelik gewerk.

Die Suid-Afrikaners het vandag op die Wanderers die bordjies teen die Tiere verhang om die tweede eendagwedstryd met sewe paaltjies te wen.

Eerstens het Kagiso Rabada (5/39) hopeloos te veel woema vir die Bangladesj-kolwers gehad. Die 26-jarige Protea-blits het met vuur en aggressie geboul en hy het amper eiehandig die besoekers op 34/5 laat steier.

Maar met Marco Jansen uit die elftal en Wayne Parnell (1/6) wat in sy derde boulbeurt met ’n dyspierbesering van die veld is, het Bavuma skielik te min boulers tot sy beskikking gehad.

Hy moes dus noodgedwonge self ’n paar boulbeurte afstuur, terwyl Rassie van der Dussen vir die 49ste boulbeurt verantwoordelik was.

Afif Hossain (72) en Mehidy Miraz (38) het munt uit die Proteas se leë boularsenaal geslaan en hulle het toegesien dat die besoekers 194/9 kon aanteken.

Quinton de Kock. Foto : Riaan de Bruyn/RDB Photography.

Maar die tuisspan het weer vir Quinton de Kock tot sy beskikking gehad en die talentvolle paaltjiewagter kolf deesde met ongelooflike vryheid.

Sy warrelwindbeurt van 62 het gesorg dat die Proteas op die bes moontlike manier weggespring het en danksy sy flitsende kolf kon hulle 72 lopies in die eerste kragspelperiode slaan.

Kyle Verreynne (58*) het daarna op die stewige grondslag voortgebou en die Proteas het die wenlopies binne 38 boulbeurte gemoker.

Die derde en beslissende wedstryd word Woensdag in Centurion beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Bangladesj 194/9 in 50 boulbeurte: Afif Hossain 72, Kagiso Rabada 5/39 en Rassie van der Dussen 1/3.

Proteas 195/3 in 37,2 boulbeurte: Quinton de Kock 62, Kyle Verreynne 58 en Afif Hossain 1/15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.