Pieter Malan moker Knights deurmekaar

Pieter Malan. Foto: Twitter.

Dean Elgar en Aiden Markram het deesdae die binnebaan wanneer dit by openingskolfwerk in die toetsarena kom, maar Pieter Malan het vandag gewys dat hy nog baie het om die Proteas te bied.

Die 31-jarige kolwer van die Cape Cobras het 264 lopies teen die Knights in Kaapstad aangeteken. Dit is die hoogste telling van sy loopbaan en hy het ’n vennootskap van 217 met die opwindende Kyle Verreynne gedeel.

Malan se marathonbeurt is die hoogste telling nóg deur ’n Cobras-speler in die franchise-era en dit verbeter JP Duminy se vorige rekord van 260 lopies.

Die Kapenaar het al in drie toetse vir die Proteas gespeel toe hy die einste Markram se skoene volgestaan het. Hy het 156 lopies teen ’n gemiddeld van 26,00 aangeteken.

Op sy beurt het Verreynne se 109 lopies sy kanse net versterk om in die Proteas se middelorde diens te doen. Die rooikop paaltjiewagter het vroeër ’n onoorwonne 216 teen die Warriors geslaan.

Intussen het Quinton de Kock 18 lopies in sy terugkeer-wedstryd vir die Titans teen die Lions geslaan nadat hy vroeër op die aandrang van medici ’n blaaskans geneem het. Hy het ook drie kolwers in die Johannesburgers se eerste beurt agter die paaltjies uitgevang.

Markram het 100 in die wedstryd aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eden ·

Hierdie is ‘n eksperiment. Baie geluk Pieter, uitstekende tweehonderdtal. Jy is ‘n yster.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.