Pietersen kap na KSA

Kevin Pietersen. (AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

Of jy nou van Kevin Pietersen in sy speeldae gehou het of nie; die man het ’n briljante krieketbrein en hy skroom nie om sy mening op sosiale media te lug nie.

Die 40-jarige Engelse kolfster het onder meer vroeër op sy amptelike Twitter-rekening gepleit dat Mark Boucher as die Proteas se afrigter aangestel moet word, terwyl hy meer onlangs ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak het.

Met Krieket Suid-Afrika (KSA) se sinkende bootjie wat die een stormagtige ekspedisie na die ander aanpak, het Pietersen weer eens nie geskroom om te sê wat hy van die situasie dink nie.

“Genugtig, wat tans met Suid-Afrikaanse krieket gebeur is ’n katastrofe,” het hy op Twitter geskryf.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het verlede week genoeg gehad van KSA se onbeholpenheid en het beslis dat ’n taakspan op die been gebring moet word om die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam se doen en late te ondersoek.

Dit word berig dat, benewens die taakspan, KSA se raad en ander beamptes (onder wie die tydelike uitvoerende hoof, Kugandrie Govender) aangesê is om voorlopig hul pligte opsy te stel totdat die ondersoek afgehandel is.

“Ek is ongelooflik jammer vir al die wonderlike mense wat vir die organisasie werk, sowel as vir die spelers wat noodgedwonge as gevolg van hierdie ramp moet ly,” het Pietersen verder geskryf.

Altesaam dertig van Suid-Afrika se voorste mans- en vrouespelers het ook onlangs ’n verklaring uitgereik om hul misnoeë te kenne te gee met die huidige stand van krieket in die land.

Die verklaring is onder andere deur Quinton de Kock en Dané van Niekerk – nasionale kapteins – sowel as spelers soos Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Temba Bavuma onderteken.

“As Proteas is ons bekommerd oor die toekoms van die spel in Suid-Afrika; daar moet besluite geneem word wat in die beste belang van krieket is, anders kan die spel wat ons liefhet, onherstelbaar beskadig word in hierdie land,” het die verklaring gelui.

Pietersen het heelhartig met die spelers saamgestem: “Hierdie rillervertoning kan die doodskoot vir krieket wees”.

Intussen het Saskok aan die Internasionale Krieketraad (IKR) gesê dat sy ingryping nie as regeringsinmenging bestempel kan word nie.

“Daar bestaan geen twyfel dat KSA in oneer gebring is nie. Verskeie belanghebbendes, onder wie spelers en oudspelers, die regering, die publiek en borge, se vertroue in die organisasie het drasties afgeneem, ” het Saskok in ’n brief gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JBN ·

Gooi maar op die ashoop. Julle beteken niks. Klaar met julle. Wil niks van julle hoor of sien nie!!!

Niklaas ·

KSA is besig om te sink. En daar is weinig in die land wat hieroor ‘n traan wegvee. Ek persoonlik voel vere daaroor.

Chris ·

Kyk net wie is betrokke by die konsert en maak wette en reëls wat afgedwing word. Die dae van rugby is ook getel. Die sg administrateurs was nog nooit op ‘n rugby of krieketveld nie. Onnosel idiote.

Andre ·

Nee wat gooi maar weg ons stel nie meer belang in enige sport in die land nie.Geen Zero Nul.

Pieter ·

Hulle het die knie reeds gebuig. Nou wil die regering hierdie koloniale sport red. Teenstrydig. Beter dat hierdie boot ook sink.

Alles wat Koning Midas aangeraak het, het in goud verander.
Alles wat Kaders aanraak, verander in as.

Frans ·

Uiteindelik begin dit tot mense deur te dring-die ANC maak geen onderskeid tussen party en regering nie.Vir hulle is dit een.Die regering werk volgens die kollektiewe gelykvormigheid beginsel.Dit beteken dat jy eenvoudig dit doen wat kollektief besluit is-of jy iets van dit weet of nie.
Sport is te wit en kan nooit verteenwoordigend van Suid Afrika wees nie.Gryp dus eenvoudig in-kry die kaders aanbewind soos met Eskom en as dit misluk-wel daar is altyd ‘apartheid’ om te blameer.

Kokerboom ·

Die regerende rowerbende kan maar net nie hul kloue van dinge afhou en dit opmors. Moenie vergeet van bevoorregte BLM voorbokke wat nou skielik bekommerd is geldskip gaan sink. Kroeket SA het my lojale stem verloor!!

pompies ·

Nou ja wat verwag ons, as die minister van sport net bekommerd is oor watter suid afrikaners in die buiteland nie hulle knie gebuig het nie en verslae wil kry daar oor moet ons nie verbaas wees as alles hier hel toe gaan nie. Hy kon nie eers as minister van poliesie hond haar afmaak nie, en hoe kan iemand dink hy sal n beter job in sport kon doen, hy het seker ook sy vingers in die geld laai nes al die ander kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.