Poets solank die trofee vir Engeland blink, sê Pietersen

Jos Buttler en Eoin Morgan. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Engeland is tans die topspan in Groep 1 van die T20-Wêreldbeker nadat hulle verspot maklik met Australië, Bangladesj en die Wes-Indiese Eilande klaargespeel het.

Sri Lanka se boulers het gesorg dat hulle ’n bietjie moes sweet, maar ná Jos Buttler se blitzkrieg het hulle ook eintlik daardie wedstryd op ’n drafstap gewen.

Eoin Morgan se span staan juis in die Proteas se pad om vir die toernooi se halfeindstryd te kwalifiseer. Ja, daar is allerhande wiskundige berekeninge wat gedoen kan word, maar as Suid-Afrika die Engelse wen is hul pad na die uitspeelwedstryde net soveel eenvoudiger.

Maar volgens Kevin Pietersen sal Engeland se wegholtrein nie sommer ontspoor word nie.

“Eintlik kan slegs Pakistan en Afghanistan Engeland klop, maar dan ook net as die wedstryd in Sharjah gespeel word. As die wedstryd op enige ander plek beslis word, kan jy maar solank die beker vir Engeland gee,” het Pietersen getwiet.

Jos Buttler slaan tans sy lopies teen ’n gemiddeld van 214 en ’n treftempo van meer as 150, terwyl Moeen Ali en Chris Woakes ook baie gevaarlik met die bal is.

Volgens Michael Vaughan, voormalige Engeland-kaptein, vertoon hulle die span uitstekend wanneer hulle onder druk geplaas word.

Teen Sri Lanka was hulle kniediep in die moeilikheid met die telling op 35/3, maar Buttler en Morgan het die kastaiings uit die vuur gekrap.

“Engeland het uitstekend terugbaklei, terwyl Morgan se kapteinskap ook uit die boonste rakke is. O ja, Jos Buttler is tans die beste T20-kolwer ter wêreld,” het Vaughan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Enigiets kan gebeur in T20. Iemand soos De Kock kan dalk net op die dag hulle uitmekaar uit slaan. Ons boulers is ook goed. Hierdie Engelse raak darem vinnig grootbek as hulle goed vaar. Ons sal sien.

Windhond ·

De Kock sal n sweep shot moet speel aangesien hy nou op sy kniee is

tweeling ·

Miskien moet hulle ook leer om die kurk van ‘n sjampanje bottel vinnig terug te kan sit soos in die RWB.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.