Pollard: ‘Windies sal aanhou om knie te buig’

Kieron Pollard sê die Windies sal voortgaan om die knie tydens die komende T20-Wêreldbeker te buig. Foto: Randy Brooks/AFP.

Kieron Pollard, die kaptein van die Wes-Indiese Eilande, het gesê sy span sal voortgaan om die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging tydens die komende T20-Wêreldbeker te buig.

Die Windies speel hul eerste groepwedstryd teen Engeland en die 34-jarige speler meen dat hy nie sy teenstanders kan dwing om te kniel nie. Hulle moet ook nie net die knie buig bloot omdat die Wes-Indiërs dit doen nie.

“Die gebaar moet nie net gedoen word om ons te ondersteun of omdat ons simpatie soek nie. Almal het hul eie mening oor rassisme en BLM en ek kan nie vir mense sê wat om te doen nie. Baie keer verwag jy dat mense op ’n sekere manier optree en dan is jy teleurgesteld wanneer hulle dit nie doen nie,” het Pollard gesê.

Engeland het tydens verlede jaar se toetsreeks teen die Windies die knie gebuig, maar hulle het dit nie weer in hul daaropvolgende kragmetings teen Pakistan en Australië gedoen nie; ’n stand van sake wat vir Michael Holding warm onder die kraag gehad het.

Holding is ’n voormalige snelbouler en kommentator wie se mening en krieketkennis in baie lande gerespekteer word.

“Oor die hele wêreld was dit nie meer ’n kwessie van swart teen wit nie, maar eerder ’n geleentheid vir die mensdom om saam te kom en te besef dat almal gelyk behandel moet word,” het die Wes-Indiese legende destyds gesê.

Volgens talle mediaberigte verloor die gebaar egter stoom en sokkerspelers word gereeld in Europa uitgejou omdat hulle die knie buig.

Pollard meen dat vryheid van keuse ’n belangrike rol moet speel.

“Baie keer moet ’n mens hand in eie boesem steek. As ons dink dit (om die knie te buig) is belangrik, sal ons dit beslis doen. Ons teenstanders kan óf daarmee saamstem óf nie; dit is ’n persoonlike keuse.”

Die Proteas het ook vroeër tydens hul toer na die Wes-Indiese Eilande vir die spelers die vryheid gegun om hul eie keuse te maak.

“As die spelers nog nie heeltemal gemaklik met die gebaar is nie, kan hulle op aandag staan om steeds die veldtog te respekteer,” het Dean Elgar (toetskaptein) gesê.

Quinton de Kock was toe die enigste speler wat nie gekniel het of sy vuis in die lug gehou het nie.

“Dit was my persoonlike keuse. Soos wat Lungi (Ngidi) vroeër gesê het, dit is elkeen se individuele besluit. Niemand word gedwing om iets te doen nie – nie in die lewe nie. Dit is hoe ek dinge sien,” het De Kock gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.