Protea-boulers kry pak slae in Pakistan

Foto: Twitter.

Pakistan moes in die afgelope toetsreeks teen Nieu-Seeland bontstaan. Neil Wagner en kie het hul kolwers gepeper, terwyl Kane Williamson die een honderdtal ná die ander gemoker het.

In die huidige toets teen die Proteas in Karatsji was hul telling in ’n stadium 27/4 en selfs die Suid-Afrikaners se beskeie eerstebeurttelling van 220 het ligjare weg gelyk.

Druk nou die versnelknoppie na die derde dag van die wedstryd en die tuisspan het skielik ’n reusevoorsprong van 158 lopies.

Danksy skitterbeurte deur Fawad Alam (109), Faheem Ashraf (64) en Azhar Ali (51) het die Pakistani’s se terugvegpoging vir niks geskrik nie.

Voeg daarby ’n vennootskap van 55 lopies om die tiende paaltjie tussen Yasir Shah en Nauman Ali; en Quinton de Kock moes toekyk hoe sy span 378 lopies in die veld afstaan.

Op die boulfront het Kagiso Rabada (3/70) sy 200ste toetspaaltjie vir Suid-Afrika geneem toe hy Hasan Ali skoongeboul het. Hy het die mylpaal in sy 43ste toets vir die Proteas behaal.

Anrich Nortjé (2/105) het egter te veel lopies afgestaan, terwyl Lungi Ngidi (2/57) se boulsyfers weliswaar beter gelyk het, maar die tuisspan se kolwers het sy aflewerings met die grootste gemak gespeel.

Aiden Markram het die eerste aflewering van die Protea-beurt vir ’n vier na die grens gestuur. Maar om dinge in perspektief te plaas: hy sal 40 soortgelyke houe moet speel net sodat Pakistan weer sal moet kolf.

Die Proteas het al vantevore ’n toets in ’n soortgelyke posisie gewen óf ’n gelykop uitslag afgedwing. Maar dit was in die dae van Fanie de Villiers, Jonty Rhodes, Neil McKenzie en Graeme Smith.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet ·

Genugtig, hoe laat jy toe dat die stert 300 lopies aanteken? Dit was egter nog altyd ‘n probleem met SA krieket, sukkel om van die laaste manne ontslae te raak.

Frans ·

Dit is presies nog altyd Suid Afrika se probleem.Dit lyk my hul reken hul moet hul boulplan verander sodra hul van topkolwers ontslae geraak het.

Frank ·

Lekker slim die Pakistanis.
Elke keer wat hulle ‘n bal speel, dan skree hulle “BLM!!!”, dan buig die veldwerkers eers kniegie, voordat hulle die balle probeer jaag. Pfffft!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.