Protea-keurders ‘opgewonde’ oor dié span

Anrich Nortjé. Foto: Indrarnil Mukherjee/AFP.

Victor Mpitsang, die nasionale krieketkeurderbaas, is in sy noppies met die Proteaspan wat Indië in vyf T20-wedstryde sal aanvat.

Verskeie spelers wat in die jongste weergawe van die Indiese Premierliga (IPL) in aksie is, is vir die reeks gekies wat op 9 Junie begin.

“Die nasionale keurpaneel is opgewonde om te sien hoe ’n volsterkte Proteagroep die wêreld se voorste T20-span aanvat. Ons kan almal ook ’n sug van verligting slaak oor die nuus dat Anrich Nortjé voldoende van sy heupbesering herstel het,” het Mpitsang gesê.

Die blitsige Nortjé se laaste internasionale wedstryd was tydens verlede jaar se T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate en sedertdien het hy gespook om wedstrydfiks verklaar te word.

Hy speel egter weer deesdae vir die Delhi Capitals in die IPL en hy het gister van die gevaarlike Jonny Bairstow ontslae geraak om met ’n boulontleding van 1/29 teen die Punjab Kings te spog.

In sy vyf wedstryde het hy sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 25,71 geneem, terwyl hy 9,81 lopies per boulbeurt afstaan.

Dan is die opwindende Tristan Stubbs ook in die toergroep opgeneem.

Die 21-jarige kolwer het in Krieket Suid-Afrika se plaaslike T20-reeks amper 300 lopies teen ’n gemiddeld van 48,83 en ’n ongelooflike treftempo van 183,12 gemoker. Hy het in die proses 23 sesse geslaan.

Dewald Brevis. Foto: Twitter.

Volgens Mpitsang is Stubbs ’n opwindende vooruitsig, terwyl die ervare Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen en Wayne Parnell ook weer deel van die groep is.

Daar is egter nog nie plek vir Dewald Brevis nie.

Die oudleerder van Afrikaanse Hoër Seunskool het sy stempel in die onlangse o.19-Wêreldbekertoernooi afgedruk, terwyl hy ook vier agtereenvolgende sesse van Rahul Chahar se boulwerk in die IPL geslaan het.

Proteas se T20-groep: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs, Rassie van der Dussen en Marco Jansen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Clifford ·

Dis hoe Suid Afrika ongelooflike goeie sportsterre verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.