Protea toets positief vir verbode middel

Zubayr Hamza. Foto: Money Sharma/AFP.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vandag bevestig dat Zubayr Hamza op 17 Januarie positief vir ’n verbode middel getoets het.

Volgens ’n verklaring betwis die Protea-kolwer nie die positiewe toetsuitslag nie en hy het sy volle samewerking aan die Internasionale Krieketraad gegee.

Hy het onder meer tot ’n vrywillige skorsing ingestem wat onmiddellik in werking tree terwyl daar skriftelike voorleggings aan die internasionale krieketbeheerliggaam gestuur word.

Die positiewe toets hou verband met die middel furosemied, wat nie ’n prestasieverbeterende middel is nie.  Hamza kan ook verduidelik hoe hy dit ingeneem het.

Die 26-jarige kolwer sal nou probeer bewys dat hy nie verkeerd of nalatig opgetree het nie. Hy geniet die ondersteuning van KSA, die Westelike Provinsie Krieketvereniging en die nasionale spelersvereniging.

Hamza het in 2019 sy eerste toets teen Pakistan gespeel, terwyl hy verlede jaar sy eendagbuiging teen Nederland op SuperSportpark gemaak het.

Hy handhaaf ’n eersterangse kolfgemiddeld van 46,23 en spog met ’n hoogste telling van 222*.

  • Die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi het onder meer in 2019 tydens ’n nasionale oefenkamp positief vir verbode middels getoets.

Die blitsige agterspeler het van die staanspoor aangevoer dat hy onskuldig is wat die gebruik van anaboliese steroïede betref. Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.

“Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nie,” het hy in ’n verklaring gesê. Die uitslag van sy B-urienmonster was egter óók positief.

Die toetse is by ’n geakkrediteerde World Anti-Doping Agency (Wada)‑laboratorium by die Universiteit van die Vrystaat gedoen en daar is bevind dat die Bokblits positief vir drie verbode middels getoets het.

Hy is tot 12 Augustus 2023 geskors, maar hy beplan om weer sy stempel op die rugbyverhoog af te druk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Ek wonder hoekom dit op die lys is as dit nie prestasieverbeterend is nie. Hierdie is nou weer ‘n geval van iets neem vir ‘n siektetoestand en nou is dit toevallig ‘n “verbode middel”.

Andre ·

Ai, die aardverwarming darrem. Of is dit nou weer klimaatsverandering wat skuldig is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.