Protea-toetsspelers wat vir die meeste vermaak sorg

Jacques Kallis en Graeme Smith. Foto: Twitter.

Toe die voormalige Aussie-kaptein Michael Clarke nou die dag gesê het dat AB de Villiers en Jacques Kallis onder die beste kolwers tel teen wie hy nog ooit gespeel het, het die hamsterwieletjie behoorlik in my kop begin draai.

Waarom kies jy nie die Protea-spelers wat jou die meeste in die toetsarena vermaak het nie; selfs al het hulle nie statisties die beste gevaar nie? Met ander woorde, die spelers wat jy sou gekies het om saam met jou in die agterplaas teen die bure krieket te speel.

Ek het vanoggend om 04:30 wakker gelê om my elftal te kies, net om teen 08:00 te hoor dat dit die vreemdste idee ooit is.

“Waarom is Graeme Smith só hoog op jou lysie? Hy wil dan nie eens Afrikaans praat nie,” het my vrou vieserig gevra.

In plaas daarvan om vir haar te verduidelik dat hy ’n openingskolwer was en dat hy waarskynlik met liefde Afrikaans sou gepraat het as hy met die wulpse Lettie Poggenpoel uitgegaan het, het ek maar eerder begin tik.

Hier is die Protea-spelers wat my die meeste in die toetsarena (sedert hertoelating) vermaak het:

  1. Graeme Smith (9 265 lopies teen ’n gemiddeld van 48,28 en ’n treftempo van 59,67):

Ja, hy het dalk te veel kougom gekou na jou ouma se smaak en volgens jou vrou wil hy nie Afrikaans praat nie, maar “Bif” was seker een van ons beste en taaiste krieketspelers ooit.

As 22-jarige het hy die kapteinleisels by Shaun Pollock oorgeneem en terstond twee agtereenvolgende  dubbelhonderdtalle teen die Engelse geslaan, terwyl hy later in sy loopbaan met ’n gebreekte hand teen die blitsige Mitchell Johnson in Australië gekolf het.

Hy het nie met almal oor die weggekom nie – vra maar vir Ray Jennings en Shane Warne – maar te danke aan hom het die Proteas toetsreekse in Australië en Engeland gewen. Ek sal nie sommer sy onoorwonne 154 teen Engeland op Edgbaston in 2008 vergeet om die reeks vir die Proteas te beklink nie.

Hy was inderdaad ’n baie goeie leier.

  1. Herschelle Gibbs (6 167 lopies teen ’n gemiddeld van 41,95 en ’n treftempo van 50,26):

Jy kon my met ’n veertjie omtik toe ek sien dat Smith vinniger as Gibbs in toetskrieket gekolf het. Want waar Smith soms lomp gelyk het, was Gibbs die talentvolle ster wat op sy dag enige boulaanval aan flarde kon slaan.

Ek onthou sy dryfhou deur die dekveld na die grens. Dit het soms ongelooflik maklik gelyk; selfs al het Glenn McGrath vir hom geboul.

  1. Jacques Kallis (13 289 lopies teen ’n gemiddeld van 55,37 en 292 paaltjies teen ’n gemiddeld van 32,65):

Jacques Kallis. Foto: Twitter.

“Wat soek ’n ou daar wat sy lopies teen ’n treftempo van 45 geslaan het?” mag jy tereg vra.

Maar wanneer Jacques Henry Kallis eers dáárdie dryfhou vanaf die agtervoet uit sy repertoire-kas gehaal het, was daar min dinge só mooi in wêreldkrieket.

Kallis was die spilpunt waarom die res van die Proteas se sukkelende kolwers gedraai het. Maar wanneer hy die kans gekry het, het hy die lopiekrane behoorlik oopgedraai. Hy het die rekord gehou vir die vinnigste toetsvyftigtal, terwyl sy dubbelhonderdtal teen Indië in 2012 ’n absolute fees vir die oog was.

  1. AB de Villiers (8 765 lopies teen ’n gemiddeld van 50,66 en ’n treftempo van 54,51):

AB de Villiers. Foto: Twitter.

As kolwer was De Villiers ’n speler vir enige geleentheid; maak nie saak of daar van hom verwag word om vinnig lopies te slaan of om te verdedig om die Protea-kastaiings uit die vuur te krap nie.

In sy laaste reeks teen die Aussies het hy ’n flinke beurt van 126 geslaan op ’n kolfblad waarop niemand anders aanvallende krieket kon speel nie.

Hy kon ’n toets binne ’n japtrap vir die Proteas wen, terwyl ʼn mens opgewonde was wanneer hy voor die paaltjies was. En dít het van hom ’n besonderse speler gemaak.

  1. Daryll Cullinan (4 555 lopies teen ’n gemiddeld van 44,21 en ’n treftempo van 48,96):

Die man wat Graeme Pollock se rekord vir die hoogste telling deur ’n Protea-kolwer verbeter het, het soms net so lekker gesukkel.

Ek onthou gedurende die 1993-’94-toer na Australië het Shane Warne hom letterlik om sy pinkie gedraai. Maar net in die daaropvolgende reeks het hy weer vir ’n Wes-Indië of vir ’n Nieu-Seeland stukkend geslaan.

  1. Jonty Rhodes (2 532 lopies teen ’n gemiddeld van 35,66 en ’n treftempo van 46,31):

Rhodes het in 1998 die vinnigste honderdtal deur ’n Suid-Afrikaner in toetskrieket teen die Wes-Indiese Eilande geslaan, maar dit was sy energie op die veld wat van hom ’n legende in Suid-Afrikaanse krieket gemaak het.

Net tru van punt het Rhodes die grootste verskil gemaak en sy akrobatiese duikslae het gesorg dat kolwers gereeld onder druk was om lopies te kry.

  1. Quinton de Kock (2 934 lopies teen ’n gemiddeld van 39,12 en ’n treftempo van 70,95):

Quinton de Kock. (Foto: AP Photo/Halden Krog)

De Kock kolf slegs in die hoogste rat en hy slaan aanvallende vyftigtalle wanneer ander sukkel.

In 2016 het ons gesien hoe De Kock 129* teen Engeland op SuperSportpark geslaan het. Ek dink hy het 122 aflewerings trotseer en ná elke bal het my belese tjommie ’n waarderende “o, Quinny DK” gemompel terwyl hy tussendeur na die sonbrandroom soek.

En dit is mos die tipe reaksie wat ’n mens soek wanneer jy internasionale krieket kyk.

  1. Lance Klusener (1 906 lopies teen ’n gemiddeld van 32,86 en 80 paaltjies):

“Zoeloe” was een van die eerste spelers wat ons destyds in agterplaaskrieket gekies het. Hy was dalk meer bekend vir sy aanvallende kolfwerk, maar vroeg in sy toetsloopbaan het hy nogal met sy aggressiewe boulwerk beïndruk.

Sy ontleding van 8/64 in sy debuuttoets teen Indië was beslis iets om te aanskou nadat hy in die eerste beurt wild en wakker geslaan is.

      9. Imran Tahir (57 paaltjies teen ’n gemiddeld van 40,24):

Of hy nou 5/32 teen Pakistan neem, of o/260 teen Australië; Imran Tahir se passie was aansteeklik. Hy kolf ook bó Steyn en Donald omdat sy houekeuse met tye baie vreemd was en dit jou lekker laat lag het.

  1. Dale Steyn (439 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,95):

Allan Donald laat Mike Atherton se paaltjies op die Wanderers spat. Foto: Twitter.

Om ’n krieketbal teen 145 km/h te swaai is ’n besonderse vaardigheid waaroor min boulers beskik. Om ’n lang storie kort te maak, dit was ’n voorreg om vir Dale Steyn in aksie te sien.

  1. Allan Donald (330 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,25):

Die Wit Blits was die pyl in Kepler Wessels en Hansie Cronjé se kokers. Die atletiese Donald het oor vaart en aggressie beskik – vra maar net vir Mike Atherton op Trent Bridge en vir Steve Waugh in Sydney.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.