Protea-toppies verrinneweer Wallis

Dave Callaghan. Argieffoto.

Die Proteas se ou manne het hul Wêreldbeker-veldtog vir spelers bo 50 jaar oud op ’n wennoot in die Kaap afgeskop toe hulle Wallis met ’n allemintige 193 lopies ore aangesit het.

Veral die 50-jarige Alan Dawson was in ’n veglustige bui en die voormalige veelsydige speler van die WP het 69 lopies van slegs 35 balle geslaan. Hy het ’n verstommende 48 lopies van die laaste 11 aflewerings in die Suid-Afrikaanse kolfbeurt gemoker.

Sy beurt het ses tamaaie sesse ingesluit en hy was saam met Dave Callaghan (52) verantwoordelik vir die tuisspan se goeie telling van 253/5.

Daarna het goeie boulwerk deur Bruce Wilson (4/9) en Rodney Malamba (2/16) gesorg dat Wallis vir 60 binne 24 boulbeurte uitgeknikker is.

Dan spog die Proteas met een van die vinnigste boulers in die toernooi.

Henry Williams kan nog gereeld kartetse van tussen 125 km/h en 130 km/h afstuur en die kolwers sal beslis moet bontstaan wanneer hy ingehardloop kom.

“Ek kan die bal steeds lekker swaai en ek het onlangs ’n klubwedstryd gespeel waar die jong ouens se wenkbroue beslis gelig het omdat my boulwerk hulle nog so ’n bietjie probleme gegee het,” het Williams laggend gesê.

“Natuurlik speel ons krieket om dit te geniet, maar ons speel ook in die Wêreldbeker en ons verteenwoordig ons land. Ons almal is nog lekker mededingend en gaan beslis ons beste lewer. Ons speel om te wen, ons kan later nuwe vriende maak.”

  • Die Proteas se bo-50-span: Dave Callaghan (kaptein), Louis Koen, Alan Dawson, Pieter Strydom, Kenny Jackson, Dave Holgate, Anwell Newman, Neil Fusedale, Rodney Malamba, Mlungisi Ngece, Dave Duncan, Bruce Wilson, Warne Rippon, Brad Player, Nazeem White en Henry Williams.

Hul volgende wedstryd is môre teen Engeland by Rondebosch Boys’ High.

  • Albie Morkel. Argieffoto.

    Intussen het die Suid-Afrikaanse Legendes, wat spelers soos Herschelle Gibbs, Jonty Rhodes, Andrew Hall en Paul Harris insluit, maklik met Brian Lara se Wes-Indiërs in Indië afgereken.

Die Windies het eerste gekolf en Harris (3/21) het hulle tot 143/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk. Daarna het Rhodes (53 van 40 balle) en Morkel (54 van 30 balle) die wa deur die drif vir die Suid-Afrikaners getrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Villiers ·

Snaaks dat Jonty Rhodes plek gekry het? Hy dan self gesê as dit nie vir Apartheid was nie sou hy nooit span gehaal het nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.