Protea-visier skuif nou na toetsreeks

Die Protea-kaptein Dean Elgar. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Die mik-en-moker-reekse teen Engeland en Ierland is in die sakkie en nou skuif alle aandag na die toetse teen die Engelse.

En as T20-krieket as die kitskos van wêreldkrieket bekendstaan, dan moet die rooibalwedstryde beslis ’n vyfgangmaaltyd wees.

Boonop is die Proteas die voorlopers op die Internasionale Krieketraad se wêreldkampioenskap vir toetskrieket, terwyl hulle onder Dean Elgar se leiding weer met die veggees van ouds begin speel.

Daar word egter tans oor die fiksheid van Kagiso Rabada gesweet en Mark Boucher hoop dat die snelbouler gereed vir die eerste toets op Lord’s sal wees.

’n Enkelbesering het gesorg dat Rabada die laaste T20-kragmeting teen Engeland en die afgelope blitsreeks teen Ierland misgeloop het.

“KG is ’n belangrike skakel in die span en dit een van ons hoofprioriteite om toe te sien dat hy weer op alle suiers vuur,” het Boucher gesê.

Die Protea-afrigter het bygevoeg dat Rabada die afgelope twee dae weer ’n bietjie in die nette geboul het.

Kagiso Rabada: Foto: Marco Longari/AFP.

“Ja, sy werklading is weliswaar nou baie laer as vantevore, maar ons doen alles binne ons vermoë om hom fiks vir die eerste toets te kry.”

Indien Rabada nie betyds vir die kragmeting op Lord’s herstel nie, kan die Proteas steeds op die snelboul-vaardighede van Anrich Nortjé, Lungi Ngidi, Marco Jansen, Duanne Olivier, Lutho Sipamla en Glenton Stuurman reken.

Die Suid-Afrikaners sal immers op hul beste moet wees as hulle vir die Engelse ’n bloedneus op hul tuisveld wil gee.

Onder Ben Stokes en Brendon McCullum geniet hulle ’n aggressiewe herlewing. Kolwers soos Joe Root en Jonny Bairstow skroom nie om vinnige lopies te slaan nie en die Engelsmanne het hul laaste paar toetse op ’n drafstap gewen.

Tog beskik Boucher-hulle ook oor ’n troefkaart of twee: Hulle weet wat om van die Engelse te verwag en dan is daar die Protea-boulaanval.

Die draaiboulwerk van Keshav Maharaj en Simon Harmer kan ook ’n rol kan speel. Die twee draaiers het juis verwoesting in die onlangse reeksoorwinning teen Bangladesj gesaai en veral Harmer is baie vertroud met die Engelse toestande.

  • Opsomming van gisteraand se wedstryd teen Ierland:

Suid-Afrika 182/6 in 20 boulbeurte: Reeza Hendricks 42, Heinrich Klaasen 39 en Gareth Delany 2/24.

Ierland 138/10 in 18.5 boulbeurte: Harry Tector 34, Wayne Parnell 5/30 en Dwaine Pretorius 3/33.

  • Rooibalkrieket-bepalings teen Engeland:

9 Augustus: Opwarmingswedstryd teen Engeland A

17 Augustus: Eerste toets

25 Augustus: Tweede toets

8 September: Derde toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.