Protea-vroue gereed vir ’n Thai-uitdaging

Die Proteas vier hul oorwinning teen Engeland. Foto: Twitter.

“Vanjaar se T20-wêreldbeker vir vrouekrieketspelers voel net anders.”

Só sê die Proteas se Chloe Tryon op die vooraand van hul wedstryd teen Thailand in Canberra.

Vroeër was die Suid-Afrikaners se Mignon du Preez die groot heldin toe sy ’n ses in die laaste boulbeurt geslaan het om Engeland met ses paaltjies ore aan te sit. Dit was slegs die derde keer wat die Proteas Engeland in die formaat van die spel kon wen.

Die 30-jarige Du Preez het boonop haar 100ste wedstryd vir die Proteas gespeel nadat sy haar debuut destyds as ’n 17-jarige gemaak het.

“Dit is die sewende T20-wêreldskouspel waarin ek speel en ons kon nog nooit eens naby die silwerware kom nie. Dit is tyd dat ons die verlede los en vorentoe beweeg,” het Du Preez gesê.

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

“Ons het nog altyd geweet hoe sterk ons as span is en dat ons oor wedstrydwenners beskik, maar ons kon nog nooit die wa deur die drif trek nie. Dié sege sal vir ons die nodige selfvertroue gee om vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer. Ons weet ons is goed genoeg, ons moet net na ons volle potensiaal speel en dit geniet.”

Tryon stem saam met Du Preez se standpunt.

“Ons het as span gegroei en ons kon die Engelse klop te danke aan ons goeie voorbereiding. Dit is ’n wonderlike gevoel om die toernooi met ’n sege af te skop.”

Ná die 2018-toernooi het die Proteas introspeksie gedoen en besef dat hul kolwers nie die mas opkom nie. Volgens Tryon het van die spelers se deelname aan Australië se Big Bash League beslis met hul selfvertroue gehelp.

Thailand het Woensdag teen die einste Engeland met 98 lopies verloor – die grootste nederlaag in die geskiedenis van die T20-wêreldbeker.

Nattaya Boochatham, die Thaise onderkaptein, is maar versigtig vir die Suid-Afrikaanse kolwers.

“Suid-Afrika is die span met die beste spelpeil in die groep. Hulle kolwers is baie aggressief; ons sal ons storie moet ken om hulle in toom te hou,” het Boochatham gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Mignon het op laerskool in die eerste span gespeel saam met die seuns. Hulle het teen ons skool se eerste span gespeel en sy het daardie dag 95 lopies geslaan. Ek het nogal lekker gekry want sy het die grootbekbouler van ons stukkend geslaan. Op hoërskool het sy ook uitstekend hokkie gespeel, maar het toe maar by krieket gebly want haar vooruitsigte was baie beter. Geluk met jou prestasie, Mignon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.