Protea-vroue onoorwonne in Wêreldbeker

Laura Wolvaardt op die aanval. (Foto: Twitter)

Suid-Afrika se vrouekrieketspan het hul plek in die halfeindstryd van die T20-wêreldbekertoernooi in Australië bespreek ná ’n goeie oorwinning van 17 lopies oor Pakistan vanoggend.

Die Proteas het reeds met Engeland en Thailand afgereken en vandag se sege is beslis nog ’n tree in die regte rigting om later die eerste senior Suid-Afrikaanse krieketspan te word om met die silwerware by ’n internasionale Wêreldbeker-skouspel weg te stap.

Maar vandag was nie té maklik nie.

Die Suid-Afrikaanse kolwers was tot dusver haas onstuitbaar in die toernooi, maar hulle het in Sydney op 64/4 gesteier vóór ’n skitterbeurt deur Laura Wolvaardt die kastaiings uit die vuur gekrap het.

Die 20-jarige Wolvaardt het 53 onoorwonne van slegs 36 aflewerings gemoker. Haar beurt het agt grenshoue ingesluit en sy het 12 lopies van die laaste boulbeurt geslaan om te sorg dat die Proteas hul beurt op 136/6 afgesluit het.

Wolvaardt met haar speler van die wedstryd-toekenning. (Foto: Twitter)

Daarna het goeie boulwerk deur Nonkululeko Mlaba (4-20-1), Shabnim Ismail (4-17-1) en Dané van Niekerk (4-17-1) die Pakistani’s tot 119/5 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk.

Op die ou end was Wolvaardt se beurt die verskil tussen die twee spanne gewees.

“Ek dink dit is beslis die waardevolste bydrae wat ek tot die span gemaak het. Om op nommervyf te kolf is beslis iets waaraan ek nie gewoond is nie, maar die veldwerkers is nie so naby nie en jy kan met meer vryheid kolf,” het sy gesê.

“Dit was slegs die derde keer dat Laura op nommervyf kom kolf het; sy is normaalweg ’n openingskolwer. Sy het ’n ongelooflike vegtersbeurt gespeel en is baie volwasse vir haar ouderdom. Sy is reeds ’n ongelooflike speler, maar ek dink sy gaan een van die spel se legendes word,” het die Protea-kaptein, Dané van Niekerk, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.