Proteas begin goed op Nuweland

Vernon Philander het reeds ’n paar skitterende aflewerings in sy laaste toetsreeks afgestuur. (AP Photo/Themba Hadebe)

Nuweland is ’n heeltemal anderste krieketblad as SuperSportpark, maar Vernon Philander is absoluut mál daaroor om op sy tuisveld te boul.

Wie sal ooit sy toetsbuiging vir die Proteas vergeet toe hy ’n skitterende 5/15 teen Australië geneem het om die besoekers vir 47 lopies uit te knikker!

Vandag, nadat Engeland se Joe Root die loot gewen en besluit het om eerste te kolf, het “Big Vern” weer gesorg dat die bal die praatwerk doen en sommer vinnig van Zak Crawley ontslae geraak.

Hoewel Joe Denly en Dom Sibley daarna vir ’n vennootskap van 55 lopies om die tweede paaltjie gesorg het, het ekonomiese boulwerk deur Dwaine Pretorius en Keshav Maharaj gesorg dat die lopiekrane stewig toegedraai is.

Die tafel was gedek vir ’n vurige boulsessie deur Kagiso Rabada en die Johannesburgse blits het glad nie teleurgestel nie.

’n Paar balle ná sy hertoetrede tot die boulaanval het een van sy aflewerings die buiterand van Sibley se kolf getref en Quinton de Kock het sy tweede vangkans van die dag benut.

Hoewel Engeland ná ete nog nie ’n paaltjie verloor het nie, kolf hulle teen slegs 2,34 lopies per boulbeurt.

Die jongste beskikbare telling is 101/2 met Denly (27) en Joe Root (31) voor die paaltjies.

Vroeër het die 30-jarige openingskolwer, Pieter Malan, sy toetsbuiging vir Suid-Afrika gemaak. Saam met sy broer Janneman – wat vir die Proteas in ’n paar T20-wedstryde gespeel het – is hulle een van die paar broers wat die land op die krieketveld verteenwoordig het.

Ander broers sluit Morné en Albie Morkel, Peter en Gary Kirsten, asook Graeme en Peter Pollock in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.