Tweede toets: Proteas behoort weer te sterk te wees

Die jong Kagiso Rabada moet ʼn onervare boulaanval lei (Foto Facebook Kagiso Rabada)

Selfs sonder vier van sy voorste boulers, behoort Suid-Afrika van Vrydag af in Bloemfontein  te sterk vir Bangladesj in die laaste van hul twee toetse te wees.

Die kolfblad sal, selfs sonder Morné Morkel, die tuisspan bevoordeel. Die gewoonweg dooie blad het vroeër in die week ʼn groenerige skynsel gehad.

Dit is wel nie so vinnig soos Faf du Plessis versoek het nie, maar is nie soos die kolfblad in Potchefstroom ‘doodgerol’ nie. Boonop was die seile op die kolfblad om teen moontlike reën te keer wat die blad kon laat sweet het.

Daar behoort ongetwyfeld meer lewe in die Bloemfonteinse blad te wees as wat die Bangladesj-kolwers wil hê.

Met Morkel wat hom by die beseerde Dale Steyn, Vernon Philander en Chris Morris aangesluit het, sal dit ʼn uiters onervare boulaanval aan Suid-Afrika se kant wees wat die toerspan twee keer sal moet uithaal.

Kagiso Rabada (21 toetse) is op 22 jaar die mees ervare van die spelers waaruit die boulaanval gekies moet word. Dan volg Keshav Maharaj (net 12) toetse, Wayne Parnell (5), Duanne Olivier (4), Andile Phehlukwayo (1) en Dane Paterson (0).

Olivier, wat hopelik aan sy beheer geskaaf het, speel op sy tuisveld. Phehlukwayo is die veelsydige speler en Maharaj is ʼn wedstrydwenner.

Paterson of Parnell sal dus die koeldrankies moet aandra. Paterson se gebrek aan ervaring behoort hom nie te diskwalifiseer daarvan om sy eerste toets te speel as hy opgeweeg word teen Parnell wat met sy onbestendige boulwerk nog nie op toetsvlak oortuig het nie.

Bangladesj se aanvangskolwer Tamim Iqbal is nie beskikbaar nie en sal waarskynlik deur Soumya Sarkar vervang word. Subashis Roy sal waarskynlik in die plek van  Taskin Ahmed gekies word om die snelaanval te versterk.

Die waarskynlike spanne –

Suid-Afrika: 1 Dean Elgar, 2 Aiden Markram, 3 Hashim Amla, 4 Temba Bavuma, 5 Faf du Plessis (kaptein), 6 Quinton de Kock, 7 Andile Phehlukwayo, 8 Wayne Parnell/Dane Paterson, 9 Keshav Maharaj, 10 Kagiso Rabada, 11 Duanne Olivier
Bangladesj: 1 Imrul Kayes, 2 Soumya Sarkar, 3 Mominul Haque, 4 Mahmudullah, 5 Mushfiqur Rahim (kaptein), 6 Sabbir Rahman, 7 Liton Das, 8 Mehidy Hasan, 9 Shafiul Islam, 10 Mustafizur Rahman, 11 Subashis Roy.

Die wedstryd begin Vrydag 10:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.