Proteas beklink tweede toets voor etenstyd op die vierde dag

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Suid-Afrika het Donderdag op die vierde dag die laaste ses paaltjies van Sri Lanka voor etenstyd laat kantel om die tweede toets op Nuweland met 282 lopies te wen en die reeks van drie toetse te beklink.

Speler van die wedstryd, Kagiso Rabada, het in Sri Lanka se tweede beurt ses paaltjies vir 55 lopies geneem en saam met sy vier in die eerste beurt die tweede keer tien paaltjies in ʼn wedstryd laat kantel en 10/92 teen ʼn gemiddelde van 16,57 per paaltjie geneem.

Dit is Rabada se tweede beste toetsontleding. Hy het verlede jaar teen Engeland 13/144 geneem.

Suid-Afrika se boulers was weer eens uitstekend, maar dit moet ook gesien word teen die gebrekkige kolftegniek wat vir Sri Lanka weer ʼn hele paar paaltjies gekos het.

♦  Krieket bly maar onvoorspelbaar en is nie altyd ʼn regverdige spel nie. Kyle Abbott, wat soos in die reeks teen Australië en in die eerste toets teen Sri Lanka voortreflik geboul het, het nie ʼn enkele paaltjie in die wedstryd geneem nie.

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

♦  Suid-Afrika se kolwers het tot dusver in die reeks hul kant as eenheid gebring, hoewel daar teleurstellende vertonings van veral Temba Bavuma en Hashim Amla was. Dit het miskien ook te veel gebeur dat van die voorste kolwers uitgehaal is nadat hulle reeds die harde werk gedoen het.

♦  Die kolfblad op Nuweland verdien ook vermelding. Dit was ʼn uitstekende toetsblad. Daar was deurgaans heelwat gras op die harde blad wat ook aan die kolwers die geleentheid tot houespel gebied het.

Dean Elgar het met sy 129 die grondslag gelê vir die groot eerstebeurt-telling nadat die Proteas ingestuur is om te kolf; en veral Quinton de Kock van die latere kolwers het met sy 101 en vinnige 29 gewys daar is heelwat lopies in die blad.

Goeie bydraes in albei beurte deur Faf du Plessis onderskryf die gehalte van die kolfblad wat deurgaans vir die boulers ʼn goeie kans gegee het.

♦  Dit is moeilik om Sri Lanka na waarde te skat. Hulle het wel verlede jaar tuis op draaiersblaaie die reeks teen Australië 3-0 gewen, maar was uit hulle diepte op die vinniger kolfblaaie in Port Elizabeth en veral Nuweland.

Oor ʼn week is die Wanderers in Johannesburg van 12 Januarie hul onwelkome voorland.

Opgesomde telkaart –

Suid-Afrika (eerste beurt): 392 (Kolwers: Stephen Cook 0, Dean Elgar 129, Hashim Amla 29, JP Duminy 0, Faf du Plessis 38, Temba Bavuma 10, Quinton de Kock 101, Kyle Abbott 16, Vernon Philander 20, Keshav Maharaj 32*, Kagiso Rabada 8. Boulers: Lahiru Kumara 6/122, Sumara Lakmal 2/93, Rangana Herath 2/57)

Sri Lanka (eerste beurt): 110 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 24, Upul Tharanga 26*, Dhananjaya de Silva 16. Boulers: Vernon Philander 4/27, Kagiso Rabada 4/37, Keshav Maharaj 2/32, Kyle Abbott 0/9)

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Foto: AP Photo/Schalk van Zuydam

Suid-Afrika (tweede beurt): 224/7 verklaar (Kolwers: Stephen Cook 30, Dean Elgar 55, Hashim Amla 0, JP Duminy 30, Temba Bavuma 0, Keshav Maharaj 20*, Vernon Philander 15*. Boulers: Sumara Lakmal 4/69, Lahiru Kumara 1/62, Rangana Herath 1/32)

Sri Lanka (tweede beurt): 224 (Kolwers: Dimuth Karunaratne 6, Kaushal Silva 29, Dhananjaya de Silva (210, Kusal Mendis 4, Angelo Mathews 49, Dinsh Chandimal 30, Rangana Herath 35* Boulers: Vernon Philander 3/48, Kagiso Rabada 6/55, Keshav Maharaj 1/64, Kyle Abbott 0/74)

Suid-Afrika wen met 282 lopies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.