Proteas benodig meer as 300 vir oorwinning

Aiden Markram. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Temba Bavuma en sy Protea-span benodig 321 lopies om die eendagreeks teen Pakistan te beklink.

Die besoekers het so pas ’n mededingende telling van 320/7 in hul toegelate 50 boulbeurte opgestapel – grootliks te danke aan Fakhar Zaman (al weer), Babar Azam en ’n blitsbeurt deur Hasan Ali.

Maar soos wat Bavuma vanoggend opgemerk het: Dit is moeilik om ’n telling op SuperSportpark te verdedig, maar terselfdertyd gaan dit g’n maklike taak wees om die lopies te kry nie.

Sonder Quinton de Kock, Rassie van der Dussen en David Miller het die Proteas ’n baie onervare kolflys; net Aiden Markram het al meer as 25 eendagwedstryde vir die Suid-Afrikaners gespeel.

Tog bied dit die perfekte geleentheid vir spelers soos Janneman Malan en Kyle Verreynne om hul permanente kleim in die span af te steek.

Malan het juis verlede jaar ’n skitterende onoorwonne honderdtal teen die Australiërs aangeteken en die Suid-Afrikaners sal hoop dat een van hul toporde-kolwers weer ’n soortgelyke beurt sal speel.

Vroeër het Keshava Maharaj (3/45) goed geboul om onder meer van Zaman (101) en Mohammad Rizwan (2) ontslae te raak. Bavuma het slim met sy draaiers te werk gegaan en Markram (2/48) het selfs die boulwerk geopen.

Babar Azam (94) en Hasan Ali (32) het egter laat in die beurt die lang steel ingelê om toe te sien dat die besoekers meer as 300 lopies aanteken.

Andile Phehlukwayo – wat so byna drie lopies in die laaste boulbeurt van die vorige kragmeting verdedig het – het egter swaar geleef vandag en die Pakistani’s het 37 lopies van sy vier boulbeurte gemoker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.