Proteas besig om WB-momentum op te bou

Die Proteas se Marizanne Kapp. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Die veelsydige ster het eerstens met die bal uitgeblink – haar 5/45 het toegesien dat die Engelse tot 235/9 in hul toegelate 50 boulbeurte beperk is – waarna haar 32 lopies ’n groot rol in die Suid-Afrikaners se suksesvolle lopiejaagtog gespeel het.

En al het die Proteas vroeër teen Bangladesj en Pakistan nie op alle suiers gevuur het nie; is hulle nogtans onoorwonne ná drie wedstryde en ongetwyfeld besig om momentum op te bou.

Boonop was gister se sege hul eerste Wêreldbeker-oorwinning teen Engeland in 22 jaar.

“In die eerste twee wedstryde het ons nie gespeel soos wat ons kan nie, terwyl ons selfs teen Engeland vir elke lopie moes baklei. Hopelik gaan ons nou net beter en sterker word; ons beweeg beslis in die regte rigting,” het Kapp gesê.

Die Proteas is tans tweede op die punteleer, maar daar wag nog baie moeilike wedstryde teen Nieu-Seeland, Australië en Indië op die span.

Hulle beskik egter oor ’n hele paar talentvolle spelers.

Benewens Kapp het Shabnim Ismail uitstekend teen Pakistan geboul, terwyl Laura Wolvaardt oudergewoonte onder die voorste lopiemakers tel.

Lizelle Lee het egter nog ’n stillerige toernooi, maar Suné Luus (wat die span in die beseerde Dané van Niekerk se plek aanvoer) glo dat die sterkolwer binnekort met ’n goeie beurt vorendag sal kom.

“Lizelle het die afgelope paar maande nie baie krieket gespeel nie en dit sal haar ’n rukkie neem om weer haar voete te vind. Ons wil haar glad nie onder druk plaas nie,” het Luus gesê.

Die Proteas speel Donderdag teen Nieu-Seeland in Hamilton.

Wêreldbeker-punteleer:

  1. Australië: 8 punte
  2. Suid-Afrika: 6 punte
  3. Indië: 4 punte
  4. Nieu-Seeland: 4 punte
  5. Wes-Indiese Eilande: 4 punte
  6. Bangladesj: 2 punte
  7. Engeland: geen punte
  8. Pakistan: geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.